Die bekroonde kinderboekskrywer Fanie Viljoen het verlede Donderdag besoek afgelê by die Langerugskool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.
’n Gees van opgewondenheid het geheers in die skoolsaal toe Viljoen opdaag. Van die leerders het só uitgesien na sy besoek dat hulle soos verskillende karakters uit Viljoen se boeke aangetrek het. Die seuns het opgedaag in hul rugbytruie nadat hulle Viljoen se boek Monsterrugby gelees het.
Hy skryf graag oor temas waarmee leerders probleme ervaar, soos boelies.
“In Kaptein Verdwyn skryf ek oor Kyle wat gereeld geboelie word op skool. Toe hy ’n nuwe foon kry, laai hy ’n app af wat ’n mens glo onsigbaar maak om die boelie wat hom altyd so moeilikheid gee, terug te kry,” vertel Viljoen.
Wat die boek egter so uniek maak, is dat dit ook wenke bevat oor wat kinders moet doen as hulle deur boelies geteister word.
Vir die leerders wat ruimtewesens interessant vind, is Nova die perfekte reeks boeke. Viljoen het vir die gehoor ’n gedeelte uit die boek gelees.
“In die Nova-reeks sien Lucas vir die eerste keer ’n ruimteskip. Sy pa gooi sy gesig toe met ’n kombers en dra hom terug motor toe. Sy pa sê dit was net ’n verskietende ster wat hy gesien het, maar Lucas weet dat sy pa vir hom jok. Dis maar net die begin van die boek waarin Lucas nog baie te doen gaan kry met ruimtewesens.”
Cecile de Villiers, Langerugskool se skoolhoof, was baie beïndruk met Viljoen se besoek aan die skool.
“Terwyl ek na Fanie Viljoen sit en luister het, wat in die mooiste en suiwerste Afrikaans van sy boeke vertel en die leerders nuuskierig maak oor die boeke, het ek gevoel dat ek onmiddellik die boeke wil koop. En nie net een nie, al die boeke waarvan hy gepraat het klink net so interessant en sal ek dit graag wil lees, al is die teikenmark kinders en jongmense,” sê De Villiers.
“Ek was baie beïndruk dat die skool so ’n mooi biblioteek het. ’n Mens kan sien dat die leerders almal lief is vir lees. Dit was lekker om te kom praat met die leerders en onderwysers by Langerugskool. Ek hoop hulle raak almal boekwurms,” het Viljoen afgesluit.