Die 18-jarige Rachelle du Preez van Bonnievale is ’n jong vrou wat nie skroom om van enige uitdaging ’n sukses te maak nie.
Rachelle het in 2020 haar matriekjaar voltooi en op Dinsdag 23 Februarie uitgevind dat sy sewe onderskeidings behaal het tydens die afgelope nasionale matriekeindeksamen. Sy het ook ’n gemiddeld van 91% behaal en is aangewys as Hoërskool Bonnievale se topmatrikulant.
“Dit was effens van ’n skok. Ek was verbaas gewees, want ons is ’n baie sterk klas met sterk kandidate en goeie kompetisie. Ek het hard gewerk vir goeie uitslae en is dankbaar om dit te kon behaal,” verduidelik sy.
Rachelle gaan binnekort haar skooltas vir ’n stetoskoop verruil wanneer sy op 3 Maart by die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit instap as eerstejaar- mediese student.
Buiten lewensoriëntering (94%), het sy ook 93% gemiddelde behaal in lewenswetenskappe en Engels. Sy het 92% vir wiskunde behaal en in die 80% vir fisiese wetenskap, Afrikaans en rekeningkunde.
Op skool het sy uitgeblink in tennis, netbal en atletiek. Sy het ook redenaars gedoen, aan dans deelgeneem en speel ook klavier.
Sy vertel egter dat Covid-19 ’n groot uitdaging geskep het, maar dat sy steeds met ’n dankbare hart vandag leef.
“Die eerste kwartaal van 2020 was baie deurmekaar en besig. Toe tref Covid-19. Ons moes aanpas en aangaan. Aan die een kant was dit ’n riller, maar aan die ander kant was ek baie dankbaar vir die geleentheid om meer akademiese tyd tydens die inperking te kon hê. Dit was sleg op verskeie fronte, maar ook positief op sy eie manier.”
Alhoewel sy nog nie seker is waarin sy wil spesialiseer nie, sien sy uit om met haar kursus te begin.
Sy verduidelik ook dat sy baie ondersteuning gehad het tydens die aanpak van die afgelope eksamens.
“My grootste inspirasie is sekerlik my ouers. Hulle is veerkragtig en hulle liefde vir die Here is vir my ’n groot rigtingwyser in die lewe. Ek is ook dankbaar vir wonderlike onderwysers en ’n skool waar ek die geleentheid kon kry om myself uit te leef.”
Dié skool het verder ook daarin geslaag om drie addisionele A-kandidate op te lewer deur Suzan Wentzel, Janke Brink en Alèza van Zyl, wat elke ’n gemiddeld bo 80% behaal het.