Smouse in die Vallei trek swaar

Informele handelaars in die Breedevallei munisipale gebied trek tans swaar onder die inperkingsmaatreëls wat ingestel is deur die nasionale regering weens die uitbreek van die Covid-19-siekte.


Informele handelaars in die Breedevallei munisipale gebied trek tans swaar onder die inperkingsmaatreëls wat ingestel is deur die nasionale regering weens die uitbreek van die Covid-19-siekte.

Dit sluit in smouse van Worcester, Robertson, Zwelethemba, De Doorns en Rawsonville.

Standard het by Bita-voorsitter, Freddie Lindoor, gaan hoor hoe word die informele handelaars in hierdie tyd geraak. Bita is ’n organisasie wat vir die regte van informele handelaars optree in die gemeenskap. 

“Toe die aankondiging gemaak is deur president Cyril Ramaphosa op Donderdag 26 Maart was ons geruk omdat daar reeds smouse was wat hul voorraad op Maandag 23 Maart gekoop het en dus was daar smouse wat sonder geld gesit het met voorraad wat binne twee dae moes verkoop word,” sê Lindoor. 

Daar is ongeveerd 500 informele handelaars in die Breedevallei en meeste van die handelaars gaan in die tyd van inperking geen inkomste verdien nie. “Die lewe van ’n smous is maar elke dag van hand tot mond en dit is dus moeilik om ’n presiese daaglikse inkomste te bepaal maar wat ’n smous verdien per dag het ’n direkte impak op wat op die tafel is om te eet later in die aand.”

Party smouse kan tot R500 per dag verdien waarvan meeste van daardie geld weer terug in die besigheid moet gaan vir voorraad om te verkoop. 

“Dit gaan tans broekskeur met die smouse omdat ons letterlik geen inkomste het vir die 21 dae nie. Ons probeer maar mekaar help waar ons kan in hierdie tyd met die basiese benodighede om te oorleef.” 

Daar is baie informele handelaars wie se voorraad vrot geword het omdat hulle nie aan die einde van die maand soos altyd kon smous met hul vars produkte nie. 

“Smouse is gewone mense wat trots wil wees daarop dat hulle vir hul families voorsien. Met kinders wat by die huis is, is dit moeilik vir ’n brood om nou heeldag te hou en baie van die smouse is selfs enkelmoeders wat sake nog verder moeilik maak,” sê Lindoor. 

Informele handelaars en hul families het in hierdie tyd geen inkomste nie en kan dus nie die nodige higiëne-produkte bekostig om hulself teen die Covid-19-siekte te beskerm nie. 

“Die eerste week van oorleef is nou reeds verby en meeste van die smouse het hul geld wat hulle gespaar het nou gebruik. Baie van die smouse weet nie eers hoe hulle na die inperking nou weer gaan begin bedryf nie omdat hulle geen kapitaal het nie.” 

Volgens hom gaan die uitstel van sportbyeenkomste en die Paas-bazaar ook die inkomste van die smouse ’n reuse knou gee vir die jaar wat nog voorlê. 

Intussen het Standard verneem dat Minister Nkosazana Dlamini-Zuma aangekondig het dat informele handelaars nou weer mag begin handel gedurende die inperkingsperiode. “Informele handelaars moet ’n permit kry by hul plaaslike wyksraadslede of die munisipaliteit dan is hulle welkom om in hierdie tyd weer te handel,” aldus Dlamini-Zuma.

Lindoor meen egter dat die risiko steeds baie hoog is vir die informele handelaars om te begin handel en dat daar geen ondersteuning van die plaaslike en nasionale regering gebied word nie. “Dit is ’n donker tyd vir die smouse maar ons glo en vertrou dat hierdie donker wolk ook ’n goue randjie sal hê.” 

You need to be Logged In to leave a comment.