Leerders aan Nieuw Morgen Primêre Skool is onlangs met pragtige gebreide goedere bederf.

Altesaam 156 serpe en musse is op 4 September aan leerders van dié skool oorhandig. Die gemeenskapsprojek word deur ’n Nederlandse maatskappy, De Monnik Dranken, asook Alvi’s Drift in samewerking met die Worcester- wyn- en olyfroete (WWOR) gefinansier.

Weens die Covid-19-pandemie het die nood ontstaan om leerders van artikels te voorsien wat kon bydra tot hul daaglikse behoeftes en om hulle teen die koue te beskerm. Die behoefte is onder die kinders van die plaasskole in die Worcester-gemeenskap geïdentifiseer wat deel is van die WWOR en die Knuffelig (beteken “snoesig” in Nederlands) en so het die warm breiprojek begin.

Innovation for the Blind in samewerking met NID, APD en goedhartige vrywilligers het die taak met groot ywer aangepak en die 156 serpe en musse gebrei. Altesaam 70 jonger leerders is ook elkeen met ’n gebreide poppie verras.

Die eienaars van Alvi’s Drift private kelder, die bestuurder van die WWOR en die koördineerders van Innovation for the Blind het die geleentheid bygewoon. “Dit was oorweldigend om die kinders se dankbaarheid te beleef,” sê Ciskia Steer van Innovation for the Blind.

“Die volgende skole is reeds geïdentifiseer en ons sien uit om die projek verder te neem, want só kan ons ’n verskil in elke kind se lewe maak,” het Steer afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.