Reonardo Philander raap vir Touwpark die bal uit die lug. Touwpark het verlede Saterdag vir Rawsonville United op United se tuisveld met 35-14 afgerantsel – ‘n soete oorwinning nadat Touwpark in 2023 drie keer deur United geklop is.

Die Touwpark-rugbyklub van Touwsrivier het die afgelope Saterdag 24 Mei) al die krane oopgedraai toe hy Rawsonville United in Rawsonville met 35-14 afgeransel het.

Touwpark was vroeg uit die blokke toe sy skrumskakel, Keathan Oliphant, oor is vir ‘n drie. Die doelskop was egter mis. Rawsonville United het self agter Touwpark se doellyn gaan kuier en die Hoffieparkskare het gejil van plesier.

Touwpark was 5-7 agter, maar het voortgestorm, Rawsonville tot foute gedwing en ‘n strafskop afgedwing, wat Oliphant deur die pale gejaag het vir ‘n telling van 8-7 in Touwpark se guns. Die wedstryd het wipplank gery, maar Touwpark se vasberadenheid het Rawsonville tot oorgawe gedwing. Hy het ‘n strafskop afgestaan, wat Keathan van die middellyn af tussen die pale deurgeklits het. ‘n Rawsonville-speler is hierna ernstig beseer toe hy sy enkel breek. Die spel is lank opgehou, met Touwpark wat met 11-7 voorgeloop het. Toe die spel hervat is, was Touwpark op die aanval. Sy heelagter, Jessy-Lee Kok, het langs die pale gedruk en Oliphant het verdoel.

Die rustydtelling was 18-7.

United begin die tweede helfte vuur en vlam en val aan. Hy gaan druk ‘n drie wat verdoel word, met die telling 18-14 in Touwpark se guns. Touwpark stuur aanval op aanval af en word beloon met ‘n drie deur sy linkelvleuel en spoedvraat, Dominic van Wyk. Oliphant skop oor en die telling skuif aan na 25-14. Die Hoffiepark-sonnetjie sak stadig en Rawsonville se spelers se koppe hang. Met briljante spel druk Touwpark se jong vleuel, Cirsten Olivier, onder die pale. Die losskakel, Clayton Isaacs, skop die bal sierlik oor en Touwpark loop met

32-14 voor. Die besoekers se ondersteuners is op hul voete en moedig hul krygers aan. Touwpark boer in United se kwartgebied en dwing foute af.

Rawsonville lyk soos ‘n afkophoender en staan ‘n strafskop af wat Isaacs deur die pale klits. Touwpark is los voor met 35-14. Die eindfluitjie blaas en Touwpark keer met ‘n bonuspunt-sege huis toe. Dit was ‘n vreugdevolle oorwinning nadat Rawsonville in 2023 drie keer in een seisoen vir Touwpark ore aangesit het.

• Hierdie naweek reis Touwpark na Rangers Robertson, wat laaste op die punteleer lê. – Petrus Saal

You need to be Logged In to leave a comment.