Die eerste sooi is in September 2019 deur dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gespit en op 26 Maart vanjaar (so bietjie langer as ’n jaar later) is die nuwe Sol-Tech-kampus in Monumentpark, Pretoria, amptelik geopen.
Nie net is die bouwerk vroeër afgehandel as beplan nie, maar minder geld as begroot, is bestee.
Hermann het destyds die kampus “ ’n lewende monument van hoop” genoem – ’n projek wat met groot sukses uitgevoer is. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit en ’n groot dryfveer agter Sol-Tech, het op ’n keer geskryf “die onmoontlike is moontlik”, “ons kan as ons wil” en “as ons net begin en aanhou en volhou – al is dit nie altyd maklik nie” en Sol-Tech bewys dat selfhelp regtig help.
“Baie bietjies maak baie!”
Elke baksteen wat gelê is, is deur die gemeenskap gefinansier (Solidariteitlede dra maandeliks R10 tot ’n boufonds by) en daarom is dié wêreldgehalte kollege ’n toonbeeld van wat vermag kan word as ’n gemeenskap saamstaan en self werk maak van ’n projek. “Elkeen moet doen wat hy kan, maar doen net iets,” sê Buys.
Die eerste studente het reeds in Februarie 2021 by die nuwe kampus ingeval. Die volgende projek wat nou voorlê, is die bou van ’n 400-bed-koshuis.
Hoekom ’n instelling soos Sol-Tech?
“Beroepsopleiding is belangrik. Meer as twee derdes van ons Afrikaanssprekende studente gaan nie universiteit toe nie. Dit is vir hierdie jongmense wat ons voorsiening moet maak – om beroepsopleiding binne die breë spektrum van beroepe te ontvang. Afgesien daarvan dat daar ongeveer 300 beroepskolleges in Suid-Afrika is, met 800 kampusse, is daar nie een ander Afrikaanse kollege nie. So ook is opleidingsgeleenthede vir ons jongmense skaars weens die wette van die land. En dit is die behoefte en leemte wat deur ’n instelling soos Sol-Tech gevul kan word.”
Opleiding bly die beste belegging
Daar is tans ’n nasionale tekort aan gekwalifiseerde ambagsmanne in Suid-Afrika. “Trouens, ons lei tans minder ambagsmanne op as in die 1980’s. Tegniese opleiding is ook baie duur, maar bly steeds die beste belegging wat ’n mens in jou toekoms kan maak. Daarom is ’n private, geakkrediteerde en wêreldgehalte instelling soos Sol-Tech – met Afrikaans as onderrigmedium – nie net broodnodig nie, maar ononderhandelbaar.”
Net ’n paar redes hoekom Sol-Tech werk
. Opleiding geskied in die student se moedertaal, wat leer vergemaklik.
. Sol-Tech se studente slaag die nasionale vaktoetseksamen met ’n gemiddelde slaagsyfer van 96%.
. 57% van Sol-Tech se gekwalifiseerde ambagsmanne het reeds werk na afloop van hul opleiding en die res word binne ses maande in diens geneem.
. Meer as 20% van Sol-Tech se gekwalifiseerde ambagsmanne begin hul eie ondernemings.
. Die fokus is suiwer op doel-spesifieke opleiding wat tot die verwerwing van ’n nasionaal erkende en bruikbare kwalifikasie lei.
. Die grondslag wat by Sol-Tech gelê word, stel studente in staat om verder in tegniese beroepsrigtings te studeer.
. Die persoonlike ontwikkeling van studente –soos leierskap – word ook as belangrik beskou.
. Lenings wat deur die Helpende Hand-studiefonds bestuur word, word rentevry aan studente toegeken. In 2021 sal bykans R50 miljoen aan verdienstelike studente beskikbaar gestel word. (Dit kos ongeveer R150 000 om een ambagsman op te lei.)
Voltydse opleiding
Opleiding geskied in drie fases: teoretiese opleiding, praktiese werkwinkelopleiding en indiensopleiding by goedgekeurde werkgewers.
Dit word opgevolg met eksterne vaktoetsvoorbereiding en daarna ’n finale kwalifiserende toets by ’n geakkrediteerde toetssentrum.
Leerprogramme wat tans aangebied word:
Dieselwertuigkundige, elektrisiën, gereedskapmaker, meulmaker, passer en draaier, sweiser, trekker-werktuigkundige en motor-elektriese werktuigkundige.
Opedae
Sol-Tech het vier innames per jaar en voornemende studente moet een van die ope dae bywoon, asook ’n keuringstoets aflê.
Die volgende ope dae by Sol-Tech vind op 5 Junie en 4 September plaas. Lees meer op Sol-Tech se webtuiste onder toelatingsvereistes en keuringstoets.
Nasionale ambagsdag
Die Solidariteit-ambagsgilde het tydens die opening aangekondig dat 26 Maart voortaan as Nasionale ambagsdag bekend sal staan, waar die gilde sy jaarlikse “Jou Yster”-prys aan die ambagsman wat ’n besondere bydrae gelewer het, oorhandig. Die eerste prys is by die opening aan Leon van Wyk, bestuurder van tegniese dienste en lektor by Sol-Tech, oorhandig. – Bron: Afrikaans.com