Worcesteriete kan hulle maar regmaak vir ’n vrek warm Januarie.

Wanneer die kwik oor die naweek weer tot naby 40 °C gaan klim, en jy lekker voor die lugreëlaar of waaier lê, is dit só maklik om van jou troeteldiere te vergeet.

Môre (14 Januarie) word voorspel dat die temperatuur in Worcester tot by 39 °C gaan styg, en dit gaan nie veel koeler wees tot in Februarie nie.

Die laagste dagtemperatuur vir Worcester in Januarie word voorspel as 34 °C op 20 Januarie. Die res van die dae in Januarie is warmer.

Somer en skroeiende temperature is nie net moeilik vir mense nie, maar veral vir troeteldiere. Verskeie faktore is hiervoor verantwoordelik, soos dat hulle vir lang tye buite is en hul pels wat eksponensieel meer hitte by hulle liggaamstemperatuur voeg.

Dit is derhalwe uiters belangrik dat ekstra sorg met jou troeteldiere geneem word tydens buitengewoon warm tye om te verhoed dat hulle ly of selfs doodgaan. Wat kan met honde gebeur gedurende tye van ekstreme hitte en hoe verhoed jy dat hulle swaarkry? Kom ons kyk daarna.

Hitte en hul gesondheid

Honde kan hipertermie of sonsteek opdoen tydens versengende hitte en dis noodsaaklik dat jy die simptome verwant aan albei erken – en daarop reageer. Dit sluit onder meer in ’n gehyg, ontwatering, uitermate gekwyl, ’n verhoogde liggaamstemperatuur (hoër as 39 °C), erge rooi tandvleis en vogtige liggaamsweefsel, produksie van klein hoeveelhede urine of geen urine, vinnige hartklop, stuiptrekkings, spiertrillings, bewerige, ongekoördineerde of dronkerige loop of beweging, bewusteloosheid waaruit die hond nie gestimuleer kan word om te ontwaak nie.

Voorkomende maatreëls

V Moet nooit jou troeteldiere in die motor los nie. Dit mag na ’n truïsme klink, maar baie mense doen dit nog! Mediaverslae getuig daarvan. Soos kinders moet troeteldiere selfs nie vir soveel as ’n minuut in die kar gelos word nie aangesien die temperatuur binne-in toe en ongeventileerde motors eksponensieel hoër is as elders. Jou troeteldier mag onomkeerbare orgaanskade opdoen of selfs doodgaan.

V Oefen op die gepaste tyd. Net soos dit nie wys is vir mense om in die middel van die dag wanneer dit 40 °C is swaar oefeninge te doen nie, is dit onwys om met jou hond te gaan stap of draf wanneer die dag op sy warmste is. Oefen jou hond dus tydens die koeler ure soos in die aand of soggens. Onthou ook om warm sypaadjies te vermy.

V Gee jou troeteldier ekstra water en bied aan hulle verskeie maniere om af te koel. Troeteldiere neem baie water in en nog meer op uiters warm dae. Dit is dus lewensbelangrik om hul waterbakke vol te hou gedurende die dag. Sit addisionele bakke water uit vir wanneer jy by die werk is en onthou om dit in die skaduwee te sit.

Bied hulle ook iets kouds aan om te geniet, en voeg ysblokkies by hul water of los ’n waaier op die stoep aan waar hulle bykomende verkwikking kan kry.

V Voorsien genoegsame skadu en hou hul hare relatief kort. Sterk direkte sonlig sal hul perspirasie versnel en veroorsaak dat hulle dehidreer, en sal ook hul vel seermaak. Hondehokke verskaf verligting teen direkte sonstrale, maar is net so broeiend in baie warm weer. Wees dus goed vir hulle en los die garagedeur oop. Of plant ’n paar skadubome en / of rig jou tuinhuisie op aangesien hierdie maatreëls nie die lugvloei belemmer nie. – Addisionele bron: Solidariteit/Eugene Brink

You need to be Logged In to leave a comment.