Die Worcester Warriors Instituut vir Sportontwikkeling (WWISD) – ’n organisasie sonder winsoogmerk – het in samewerking met die departement van sport en kultuursake en die Worcester-polisie se sosiale misdaadvoorkomingseenheid ’n vakansie-sportprogram vir jongmense op plase gehou.

Die program is van 3 tot 15 Januarie in Nuy, Overhex, Aan De Doorns, Scherpenheuwel, Alfa Farms en Lemoenpoort aangebied.

Die program het gefokus op sportontwikkeling, boeliegedrag in skole en op plase, asook toekomsbeplanning vir jongmense.

Die WWISD het raakrugby aan die jongmense van ses plase bekend gestel onder leiding van die SA raakrugbyspeler Zane Pietersen, die gewese SA sewesspeler Jeffrey Stevens, die gewese UWK-sewesspeler Shane Pietersen en Anelca Hess, ’n Boland-vrouerugbyspeler. Anelca is ook lid van die SA vrouesewesgroep.

Sportsoorte soos mini-netbal, mini-krieket asook inheemse speletjies soos onder meer driestokkie, klippie en touspring is beoefen.

Altesaam 60 jongmense van elke plaas het daagliks twee etes ontvang en sowat 360 jonges is elke dag gevoed.

Volgens die jonges het hulle elke dag daarna uitgesien om aan die program deel te neem, dit baie geniet en hulle behoorlik uitgeleef.

Die laaste sportdag is op die plaas Lemoenpoort se sportterrein aangebied en al die deelnemers aan die program was daar. Die raakrugby is deur Scherpenheuwel gewen, die netbal deur Lemoenpoort en die mini-krieket deur Overhex.

Die WWISD het aan elkeen wat deelgeneem het ’n medalje oorhandig met die slagspreuk “Almal is wenners”.

Van die waardes en doelwitte wat die WWISD met hierdie projek wil bereik, is onder meer om sportontwikkeling onder landelike gemeenskappe te bevorder – veral jongmense; om die omstandighede waarin plaasbewoners sport moet beoefen, bloot te stel; trots, waardigheid en integriteit onder jongmense te kweek; ’n sin vir mededinging onder jonges aan te wakker en om tasbare rolmodelle daar te stel.

Die WWISD het die departement sport en kultuursake, die polisie, plaaseienaars, vrywilligers van elke plaas en skool, Fortuin-busdienste en Nedbank vir hul onvoorwaardelike steun en onderskeie bydraes wat die program ’n sukses gemaak het, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.