Margaret Atwood het gesê: “You’re never going to kill storytelling, because it’s built in the human plan. We come with it.”

Die belangrikheid van stories, veral vir kinders, kan nooit genoeg beklemtoon word nie.

Daarom het die Suidoosterfees, NATi en die KKNK saamgespan en ’n opwindende kinderteaterproduksie ontwikkel. Pietersielie en Roosmaryn vertel stories! is van 26 tot 28 April om 10:30 en 13:30 in Kunstekaap tydens vanjaar se Suidoosterfees op die planke.

Pietersielie en Roosmaryn het ontwikkel uit twee kinderboeke: Prinses Pampoempit deur Bianca Flanders en Faizel en die sterre deur Rafiek Mammon. Dit vertel die verhaal van twee karakters wat die wêreld vol reis met hul tower-woonwa, op soek na vriende, boeke en kinders om stories mee te deel.

Die boodskap aan jong teatergangers is opvoedkundig en fokus op die belangrikheid van verdraagsaamheid, die waardering van mense se uniekheid, om jouself te wees, en natuurlik, die waarde van lees.

Die akteurs Dean Balie en Bianca Flanders is in die produksie te sien saam met poppekarakters wat deur Koos Marais geskep is. Balie het onlangs met ’n handvol Fiësta’s vir sy verhoogstukstuk Die Poet, wie’s hy? weggestap. Hy het ook ’n kykNET-Sinjatuurprys as belowende nuweling ontvang. Die skrywer en aktrise Bianca Flanders het gehelp om die produksie van ’n kleurryke teks en vrolike liedjies te voorsien.

Pietersielie en Roosmaryn bied aan ouers ’n uitstekende geleentheid om hul kroos tydens die skoolvakansie besig te hou. . Die produksie word op 26, 27 en 28 April om 10:30 en 13:30 in Kunstekaap opgevoer, met streng Covid-19-protokol wat gaan geld. Kaartjies is by Computicket beskikbaar. Vir groepspakkette teen ’n afslagprys kan Francois Abrahams by Francois.Abrahams@media24.com gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.