Uiterse lae damvlakke het die Langeberg-munisipaliteit genoop om vandeesweek vlak 1-waterbeperkings in al sy dorpe aan te kondig. Dit sal op 1 November in werking tree.
Inwoners wat meer as 30 kiloliter water per maand verbruik, sal ‘n 50%-heffing op hul tariewe moet betaal. Dit geld nie vir behoeftige huishoudings nie. Leiwater sal opgeskort word, met beperkte beskikbaarheid elke twee weke in Robertson en McGregor.
Volgens die munisipaliteit is hul damvlakke kommerwekkend laag ná die lae winterreënval van die afgelope seisoen. Die Dassieshoekdam is in hierdie stadium slegs 24% vol (vergeleke met 67% in Oktober verlede jaar) en die Bo-Dam se vlak staan op 38% teenoor 78% laasjaar.
Met die somer wat voor die deur lê, en gepaardgaande hoër waterverbruik, is die lae watervlakke ‘n risiko.
“Ten spyte van versoeke sedert September om water spaarsaming te gebruik, was daar steeds ‘n styging,” het die munisipaliteit se verklaring gelui.
Verdere maatreëls wat tydens die waterbeperkings sal geld, is dat tuine slegs twee keer per week tussen 18:00 en 20:00 vir twee ure lank natgelei mag word. Net krieketblaaie, gholfbane en rolbalbane mag natgelei word, maar slegs as ander bronne as munisipale water gebruik word. Dakke, opritte en motors mag nie afgespuit word nie. Slegs geregistreerde kommersiële motorwas-ondernemings mag motors was.
Volgens die munisipaliteit dui hul water-meesterplan aan dat ‘n dringende behoefte aan die opgradering van infrastruktuur bestaan, met ‘n geskatte R831-miljoen-belegging oor die volgende vyftien jaar.
Dit sluit in die opknapping van pompstasies, die vervanging van pyplyne en die verhoging van opgaardamme se inhoudsvermoë.
“Indien die waterverbruik nie met minstens 10% daal nie, sal dit nodig wees om vlak 2-waterbeperkings van 1 Desember af in te stel, met vlak 3 wat oorweeg sal word indien die verbruik steeds toeneem. Alle beperkings sal opgehef word sodra die damvlakke en verbruik stabiliseer,” het die munisipaliteit gesê.
“Verbruikers wie se finansiële lewensvatbaarheid op water staatmaak, mag aansoek om verligting doen.”
Die munisipaliteit sal ‘n bewusmakingsveldtog hou.
• Die munisipaliteit het gesê oortredings van hierdie beperkings kan by die munisipale inbelsentrum by 0860 88 1111 of 023 615 2219, op WhatsApp by 065 211 7822 of per e-pos by [email protected] aangemeld word.




