Lian Bond van HTS Drostdy het verlede jaar in sy rekordeksamen sy sussie verloor. Tog het hy deurgedruk en sy skool trots gemaak met sy finale punte.
“Die afsterwe van my sussie het my gemotiveer om hard te werk omdat ek besef het mens moet elke dag voluit leef en nooit opgee nie,” sê Bond. Hy het uitgeblink in wetenskap en inligtingstegnologie (IT) en het vir albei vakke 84% gekry. “Ek’s nie heeltemal tevrede met my gemiddeld nie, so die punte gaan hermerk word; iets waarvoor die skool aangebied het om te betaal.”
Bond is van 2012 af by die skool en het in die koshuis gaan bly omdat sy ouers op daardie stadium in Kraaifontein gewoon het. “HTS Drostdy is ’n great skool en ek moet dankie sê vir almal se ondersteuning deur die moeilike tyd,” sê Bond.
Volgens hom was die koshuis-ervaring iets uniek en hy sê dat hy beslis eendag sy kind na ’n koshuis sal stuur.
“My planne vir die toekoms is om volgende jaar by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer en ’n loopbaan in die elektriese en elektroniese ingenieurswese te volg, want dis my droom. Ek is tans nog op soek na ’n borg vir my studies en moedig mense aan wat wil help om my te skakel by 079 603 4164.”