‘n 42-jarige pa van Worcester is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy aan die verkragting van sy stiefdogter en sy eie minderjarige dogter skuldig bevind is.
Hy is ook op aanklagte van poging tot verkragting van sy stiefdogter en die seksuele aanranding van ‘n vriendin se dogter skuldig bevind.
Sy naam word nie genoem nie om die identiteit van die minderjarige slagoffers, wat met hom verbind word, te beskerm.
Hy het in die hof op een aanklag van poging tot verkragting, drie aanklagte van verkragting en een van seksuele aanranding tereggestaan.
Die voorvalle spruit oor ‘n tydperk van 16 jaar, met die eerste wat in 2005 plaasgevind het.
In die eerste voorval in 2005 het sy een stiefdogter, wat toe net 10 jaar oud was, saam met haar ma en die beskuldigde in die bed gelê. Hy het beweeg en agter haar gaan lê. Sy het wakker geword toe hy haar jeans se ritssluiter oopgetrek en probeer het om haar te verkrag. Sy het niemand vertel nie, want sy was bang dat niemand haar sou glo nie.
Familielid kontak die polisie
In 2010 het hy haar verkrag nadat sy van die skool af teruggekom het. Sy het toe haar niggie vertel, wat haar tannie oor die verkragting ingelig het, wat die polisie gekontak het. Die man is in hegtenis geneem en het in die hof verskyn, maar die aanklagte is uiteindelik teruggetrek nadat die slagoffer se familie haar onder druk geplaas het om dit te doen.
Nege jaar later het die beskuldigde se biologiese dogter van die skool teruggekom en hy het haar na die slaapkamer geneem en haar verkrag. Hy het sy hand oor haar mond geplaas om te keer dat sy ‘n geluid maak. Sy het getuig dat dit die eerste keer was dat hy so iets aan haar gedoen het. Sy was bang om enigiemand te vertel wat gebeur het.
Een aand, terwyl haar ma, ook sy vrou, kankerbehandeling in ‘n hospitaal in Kaapstad ontvang het, het hy haar wakker gemaak en haar opgetel waar sy saam met haar twee susters in die bed geslaap het. Hy het haar na sy bed geskuif, haar mond met sy hand bedek en haar verkrag. Sy het teruggegaan na die bed waar sy saam met haar susters geslaap het, maar was te ontsteld om weer aan die slaap te raak.
Buurvrou kry hulp ná sy hoor wat met dogter gebeur het
Die volgende oggend het een van haar susters opgemerk dat sy teruggetrokke was en haar gesig en oë rooi was. Hulle het haar gevra wat fout is en haar na ‘n buurvrou, wat sy as haar peetma beskou het, se huis geneem. Sy het die buurvrou vertel wat gebeur het, wat op haar beurt die polisie gekontak en haar na die Thuthuzela-sorgsentrum (TCC) in Worcester vir ‘n mediese ondersoek geneem het.
Sy het die voorval van 2019 onthul toe die polisie haar in verband met die tweede voorval ondervra het. Die beskuldigde is in hegtenis geneem en aangekla. Haar ma is oorlede kort nadat die saak aanhangig gemaak is.
Ná sy inhegtenisneming is die verkragtingsaak van die stiefdogter in 2010 as ‘n bykomende aanklag heropen. Die beskuldigde het om borgtog aansoek gedoen. Hoewel dit deur die staat teenge- staan is, het die hof borgtog toegestaan.
Terwyl hy op borgtog uit was, het hy ‘n romantiese verhouding met ‘n ander vrou, wat saam met haar dogter by hom ingetrek het, aangeknoop. Die 14-jarige dogter van sy nuwe vriendin het een aand in 2021 wakker geword met hom wat agter haar lê en sy privaatdele teen haar boude vryf. Sy het opgestaan en in ‘n ander kamer gaan slaap. Sy het nie vir haar ma vertel wat gebeur het nie, omdat sy gevrees het sy sou haar nie glo nie.
‘n Rukkie later het sy egter teenoor haar tannie gebieg wat gebeur het. Die tannie het die polisie gekontak en die beskuldigde is in hegtenis geneem. Hy het in aanhouding gebly vir die duur van sy verhoor nadat sy borgtog op aandrang van die staat herroep is.
Die beskuldigde het skuld op al die aanklagte ontken en getuig hy kon nie die beweerde oortredings gepleeg het nie aangesien hy nie by die beweerde slagoffers gewoon het nie en min tot geen kontak met hulle gehad het.
Die waarnemende streekhofaanklaer, Cornelius Prinsloo, het sy geloofwaardigheid tydens kruisondervraging betwis, wat tot sy skuldigbevinding op al die aanklagte teen hom gelei het.
Die hof het hom tot 10 jaar direkte gevangenisstraf vir poging tot verkragting gevonnis, lewenslange gevangenisstraf vir elk van die drie aanklagte van verkragting en vyf jaar direkte tronkstraf vir seksuele aanranding. Die hof het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word, wat hom lewenslank agter tralies sal hou.
Die hof het hom onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksuele oortreders opgeneem word.
Slagoffers was geloofwaardige getuies
Om geregtigheid vir die slagoffers te verseker, het Prinsloo die getuienis van ses getuies, insluitend die slagoffers, aangevoer. Na aanleiding van Prinsloo se betoog het die hof beslis dat die slagoffers geloofwaardige getuies was wie se getuienis bestendig was en gestaaf is deur die getuienis van dokters en die eersteverslaggetuies.
Ter verswaring van vonnis het Prinsloo aangevoer dat die beskuldigde sy gesags- en vertrouensposisie misbruik het en dat sy optrede moreel afstootlik was. Gebasseer op sy gedrag oor ‘n tydperk van 16 jaar, insluitend die feit dat hy op borgtog was toe hy sy vriendin se dogter seksueel aangerand het, is hy volgens Prinsloo nie ‘n geskikte kandidaat vir rehabilitasie is nie. Gebaseer op die getuienis voor die hof was daar volgens Prinsloo geen wesenlike en dwingende omstandighede om van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf af te wyk nie, aangesien die belang van die gemeenskap en die erns van die oortredings sy persoonlike omstandighede swaarder getrek het.
Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, adv. Nicolette Bell, het al die partye geprys vir die werk wat hulle gedoen het ten opsigte van geregtigheid vir die kinders, wat wreed deur ‘n man wat veronderstel was om hulle te beskerm, uitgebuit is. Die saak wys volgens Bell die voordele van samewerking tussen die polisie, die vervolging, die TCC, die hofvoorbereidingskantoor se dienste en DSD Breedevallei, wat verseker het dat die slagoffers en hul regte deur die hele proses beskerm is en geregtigheid geskied het.




