Die plaaslike Tafelronde bied vanjaar weer hul grootste geldinsamelingsprojek, Follies, aan.


Die Worcester-Tafelronde-gemeenskapsorganisasie bied vanjaar die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie sy grootste geldinsamelingsprojek, Follies, aan.

Follies is ’n fopdosserskonsert wat al sedert 1996 in hierdie omgewing aangebied word en gemik is om vermaak te bied, sowel as om geld vir die Tafelaars se projekte in te samel.

Follies is ’n partytjie-vertoning, waar oud en jonk ’n bietjie loskop kan wees en hul beursies vir liefdadigheid kan oopmaak,” verduidelik die Tafelaar Jaco Krouwkam. “Dit is ons grootste projek met die doel om mense in die omgewing met ’n fopdosser-vertoning te vermaak en om geld in te samel wat ons in die gemeenskap terugploeg. Ons hou maandelikse vergaderings om te besluit waar ons ’n verskil in iemand se lewe met hierdie geld kan maak. Ons doen soms ook “dirty hands”-projekte, waar ons fisiek gaan werk, byvoorbeeld om ’n speelterrein by ’n behoeftige skool op te knap,” sê Krouwkam.

Hy en sy mede-Tafelaars sal Vrydag 4 en Saterdag 5 November in Follies op die planke te sien wees en sê inwoners sal hierdie vertoning met ’n goeie doel terdeë geniet.

“Om op hierdie manier geld in te samel, tree ons mans ’n paar treë uit ons gemaksone en doen ’n komedie-kabaretvertoning as fopdossers, waar ons die gaste vermaak. Ons hou partytjie saam met die gaste en ons jaarlikse seremoniemeester doen baie moeite om met ’n paar goeie grappies voorbereid te wees. Ons sal tydens die vertoning lootjies verkoop en ’n paar goed opveil. Aan die einde van die vertoning kan gaste ook geld vir addisionele liedjies skenk. Die vertoning is slegs vir volwassenes.”

Hoewel Saterdag 5 November se kaartjies baie vinnig uitverkoop het, is enkele kaartjies nog vir Vrydag 4 November se vertoning beskikbaar.

Krouwkam moedig inwoners aan om hierdie vertonings by die Eikesaal in Rawsonville by te woon.

“Ons seremoniemeester is Joy von Milf (Johann von Mollendorff), wat al maande lank oefen om ‘in karakter’ te kom. Aangesien sy vanjaar haar 40ste verjaarsdag vier, is hierdie haar swanesang. Ander ‘vroue’ wat hierdie jaar hulle loopbane afsluit, is Adelaide (AC Goodger), Ivana B Queen (Herman Bester), Arielola (Riël Badenhorst) en Durexia (Jaco Krouwkam). Ons sien uit na die nuwe venue en om soos altyd ons beste te doen om ons gaste te vermaak,” voeg Krouwkam by.. Kontak die Tafelaar Werner Janse van Rensburg per e-pos by [email protected] om kaartjies te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.