‘n Haarkapper in Parkerstraat, Worcester, het begin kopkrap nadat hy met die soveelste tweeling in sy straat te doen gekry het.
Shahied Matolla, wat al 17 jaar lank ‘n haarkapper in Parkerstraat is, sê daar woon ‘n stel tweelinge langs hom en net ‘n kort entjie verder nog twee stelle. Dis eers toe hy begin uitvra dat hy besef hoeveel tweelinge in die omgewing is. “Dit laat ‘n mens wonder of daar iets in Parkerstraat se water is!” het hy laggend gesê. Hy het tot dusver sewe stelle tweelinge asook ‘n drieling in sy omgewing raakgeloop.
Studies wys tussen 12 en 15 uit elke 1 000 geboortes in Suider-Afrika is tweelinge, wat hierdie konsentrasie tweelinge merkwaardig maak.
Lamar en Liyanna Wilson is in September en Ronwin en Bronwin Plaatjies in Julie 2023 gebore, Nazeera en Nazeema Williams in Mei 2014, Aiden en Eden Marais in April 2019, Kaylin en Taylin Smith in Junie 1998 en Aiken en Brion Thops in Februarie 2004. Romano en Romario van der Westhuizen is in Augustus 1999 gebore.
“Baie van die gesinne met wie ek gepraat het, het nie besef daar is so baie tweelinge naby hulle nie. Hulle het dalk van een of twee geweet, maar was verras toe ek hulle vertel van die ander,” het Matolla gesê.
“Hierdie pragtige ‘linge’ is elke dag deel van my lewe. Van die oudstes het my eie kinders opgepas toe hulle klein was en ander is maats met my kinders. Hulle is elke dag in my huis, rondom my huis en in my winkel,” het Matolla vertel.
Ouers van tweelinge is deeglik daarvan bewus dat dié babas meer vra: Dubbel soveel doeke en melk, troos en liefde en wanneer hulle groter is, ook dubbel soveel skoolgeld, klere en kos.
Die liefde wat hulle terugkry, is egter ook tweevoudig.





