“Ek wil sien dat Teach TB al die klasse in baie primêre skole reg rondom Worcester moet bereik.”
Die Teach TB-program is Dillen Arnolds se eie inisiatief wat hy begin het. Hierdeur reël hy dat maandelikse praatjies by Avian Park Primêr gegee word oor Tuberkulose (TB).
Die projek is spesifiek gemik op skoolleerders, juis om op primêre sorg-vlak kinders op te voed oor sulke siektes wat hulle, hul families en hul onmiddellike gemeenskap kan benadeel, sê Arnolds.
“Skoolkinders bied die geleentheid aan om die las wat TB in die gemeenskap dra heelwat te verlig, deurdat hulle wil leer oor wat hulle moontlik kan dood maak. Hulle is entoesiasties oor nuwe idees en inligting en mees belangrik, hulle hou van praat – sodoende sal hulle hul vriende, ouers, broers en susters en niggies vertel oor wat hulle geleer het. Dit is presies hoe ons ons doelwit wil bereik.”
Verder vertel Arnolds, omdat lewensoriëntering so ’n ingewikkelde deel vorm van die menswees van leerders, was dit die ideale vak om te gebruik om kinders touwys te maak oor wat rondom hulle aangaan.
“Die vak bied die geleentheid om kinders oor alledaagse dinge op te voed, en wat beter as om die geleentheid aan te gryp en hulle te leer oor die euwel TB.
“Dit lei tot die potensiële vermindering in TB-gevalle in beide skole en gemeenskappe, met as gevolg ’n beter funksionerende mens in die gemeenskap.”
Vorige groepe op die Huisartskunde Rotasie in Worcester, het agtergekom dat inwoners in Avian Park geweldig onder TB deurloop. Families op families word siek en baie van die gesinne is onkundig oor TB en hoe hulle hulself en die mense rondom hulle kan beskerm teen hierdie voorkombare siekte.
Inisiatiewe is ook ingestel by die Avian Park Kliniek waar daar video’s vir die TB-lyers gewys word en pamflette uitgedeel is.
Arnolds sê hulle het egter agtergekom dat dit net nie genoeg is nie en dit is toe dat hulle na skole verwys is.
Die leerders skryf ook toetse elke tweede maand om hul kennis oor TB te verfris.
“Volhoubaarheid is wat ek graag wil sien uit die program.”