Die Afrikaanse gesegde “oos, wes, tuis bes” en vele ander bekende gesegdes pryk op die mure van die nuwe Afrikaans-klaskamer by Hoërskool Montana.Foto’s: Brümilda Swartbooi


“Oos, wes, tuis, bes” en ander bekende Afrikaanse gesegdes pryk op die mure van ’n splinternuwe, moderne klaskamer by Hoërskool Montana.

Dié Afrikaans-klaskamer is Woensdagaand 20 Februarie by die skool se opedag amptelik vir besigtiging geopen en leerders het Maandag 25 Februarie met lesse hier begin.

Montana beoog om na raming oor die volgende jaar die hele skool só te vernuwe.

Die klaskamer het verskeie moderne funksies en elemente om lesse vir leerders interessant te maak. “Elke klas het ’n monitor en internet. Sodoende kan die onderwyser visuele illustrasies deel van die les maak,” sê Dawie Diedericks, die skoolhoof.

Volgens Diedericks sal die lesse opgeneem word sodat dit later met leerders op WhatsApp gedeel kan word. Die klaskamer het ’n houtvloer en die onderwyser se lessenaar is op ’n ietwat hoër vlak.

Dit is maar slegs ’n paar van die nuwighede. Die onderwysers sal in staat wees om gelyktydig op die wit bord asook die monitor te werk as gevolg van die monitor se skuif funksie. Slimfone kan met die monitor gekoppel word indien die leerder of onderwyser dalk relevante inhoud op die skerm wil deel. “Dit bevorder ook die funksionaliteit van die klas en die interaksie tussen leerder en onderwyser,” sê Diedericks.

Diedericks sê al die toevoegings dra by tot die skepping van ’n motiverende en doelgerigte akademiese omgewing. “Ons wou eers ’n hokkie-astrobaan bou, maar slegs ’n paar leerders neem aan die sport deel en ná skool beoefen min leerders dit as ’n beroep. Dis juis hoekom ons besluit het om ’n projek van stapel te stuur waaruit alle leerders sal baat,” sê Diedericks.

Volgens Diedericks was die opgradering van die nuwe klaskamers ’n lid van die beheerliggaam, Konrad Opperman, se idee.

Diedericks het die belangrikheid van akademie by die skool beklemtoon. “Elke leerder is in staat om sy volle potensiaal te bereik. Dit sluit aan by ons tema ‘Leef jou potensiaal’.”

Met Standard se besoek aan die skool was ’n gr. 11-klas in die klaskamer.

Shannah du Toit se slimfoon is gebruik as ’n proefkonyn om te sien hoe die monitor werk.

Sy was beïndruk met die doeltreffendheid daarvan. “Dis baie ‘impressive’,” het sy aan Standard gesê.

Nog ’n leerder, Luné Janse van Rensburg, sê sy hou ook van die moderne klaskamer. “ ’n Mens kan sien baie moeite is met die skepping van die klas gedoen. Ons gaan dit geniet om hier te leer. Ek hou van die slimfoonelement – só gaan leerders vir langer aandag gee,” voorspel sy.

Volgens Diedericks sal altesaam 23 klaskamers opgegradeer word. Die beplanning is dat die klaskamers teen 2020 voltooi sal wees. . Instansies of mense wat graag tot die projek wil bydra, word genooi om die skoolhoof by 023 347 0476 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.