Terug skool toe sodat sy verpleging kan studeer

Wanneer sy die afgelope jaar in die gange van Hoërskool Montana in haar gewone klere en met los hare gestap het, het van die leerders onbewustelik gegroet: “Hallo, juffrou!”.


Wanneer sy die afgelope jaar in die gange van Hoërskool Montana in haar gewone klere en met los hare gestap het, het van die leerders onbewustelik gegroet: “Hallo, juffrou!”

Maar Cari Booyens (23) was nie op pad personeelkamer toe nie.

Sy het al vyf jaar gelede gematrikuleer, maar het aan die begin van vanjaar haar trots gesluk en die hoof van dié skool, Gerhard Biesenbach, gevra of sy kan terugkom skool toe om lewenswetenskappe as vak te neem.

“Ek het eers onlangs besef dat ek graag ’n verpleegster wil word, maar ek het nie lewenswetenskappe as vak op skool geneem nie en dis ’n vereiste,” het Booyens Maandag 16 November buite die saal van Hoërskool Montana in Worcester vertel.

Sy en haar jonger klasmaats het Maandagoggend die tweede vraestel van lewenswetenskappe geskryf.

Met dié vak in die sakkie kan sy nou aansoek doen om aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie verpleging te studeer.

“Die eerste dag in die klas was effens vreemd, maar die juffrou het mooi aan hulle verduidelik hoekom ek in gewone klere in die klas saam met hulle sit,” het sy vertel.

“Die ander leerders het my verwelkom. Ek het selfs ’n paar vriende gemaak. Ek kon hulle die aand voor ’n toets boodskappe op Whats­App stuur en hulp vra.”

Op skool het Booyens vakke soos kuns, gasvryheid en toerisme geneem, want in daardie stadium wou sy ’n kunstenaar word.

Ná skool het sy in Worcester onder meer by Penny Pinchers, die plaaslike gimnasium en die Boland-dierekliniek gewerk voordat sy besef het: “Ek wil in my ma se voetspore volg en ’n verpleegster word.

“Ek onthou nog hoe ek aan die begin van die jaar by die dierekliniek gesit en gewéét het dat ek nou dadelik die skool moet bel.

“Ja, ek verdien nou geld, maar ek wil nie vir die res van my lewe agter ’n rekenaar sit nie. Ek wil mense help.”

Dit was vanjaar die eerste keer dat Nelia Cronjé, lewenswetenskap-onderwyseres van Hoërskool Montana, ’n ouer leerder ’n tweede kans in haar klas gegee het, maar “Cari was my ligstraal”.

Cronjé raak skielik tranerig waar sy en Booyens by die skoolhek uitstap.

“Om te dink ek het iemand gehelp om ’n werk te kry. ’n Mens dink altyd ons kan niks doen aan die menigte mense wat swaarkry in ons land nie, maar die sleutel is eintlik net om dié te help wat oor jou pad gestuur word.” – Die Burger

You need to be Logged In to leave a comment.