Die Thuthuzela Sentrum in Worcester is onlangs aangewys as die beste presterende Sentrum in die Wes-Kaap. Regs is Elton Willemse wat aangewys is as die beste streekhofaanklaer in die Wes-Kaap vir 2025.

Die Worcester-Thuthuzela-sorgsentrum (TCC) het weer eens top-eerbewyse verwerf toe hy op Vrydag 14 November by die nasionale vervolgingsgesag se toekennings vir uitnemende diens in die Wes-Kaap as bespresterende TCC aangewys is.

Volgens Peter Titus van die regering se kommunikasie-inligtingstelsel, herbevestig hierdie erkenning die sentrum se jare lange reputasie as ‘n kritieke steunpilaar vir diegene wat onder geslagsgebaseerde geweld in die streek deurgeloop het.

Volgens hom gaan die sentrum, wat in 2015 nasionaal as die beste in Suid-Afrika erken is, voort om uitnemendheid in die verskaffing van holistiese, slagoffergesentreerde dienste te toon.

Titus sê hoewel die ander sentrums in die provinsie, insluitend Karl Bremer en Heideveld, noodsaaklik bly om hul gemeenskappe te dien, weerspieël Worcester se voortgesette leierskap sy diepe verbintenis om geregtigheid, sorg en waardigheid vir diegene wat geslagsgebaseerde geweld oorleef het, te verseker.

Volgens Titus word dié nieregerings­organisasie deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gefinansier en lewer dit ‘n 24-uur-diens.

MOSAIC se plaaslike woordvoerder, Karin Links, sê: “Hierdie erkenning bevestig die hart van MOSAIC se werk wat die verskaffing van empatiese, oorlewende-gesentreerde en holistiese onder­steuning aan elke mens wat by ons deure instap, insluit.”

MOSAIC is ‘n nieregeringsorganisasie wat opheffingswerk doen op die terrein van geslagsgebaseerde geweld.

Die waarnemende uitvoerende hoof van die Worcester-hospitaal, Zandile Kwinana, het aangedui dat hierdie erkenning vir hulle nie bloot ‘n toekenning is nie, maar ‘n kragtige herinnering dat deernisvolle, regte-gebaseerde en trauma-ingeligte sorg wel werk en dat hul missie om waardigheid, veiligheid en genesing te herstel, dringend en noodsaaklik bly.

Cindy Abdol, die staatsadvokaat vir die Thuthuzela-sentrum, het die toewyding van elke vennoot wat by die sentrum betrokke is, se sukses geprys.

“Hierdie erkenning behoort aan alle belanghebbendes. Hul toewyding, koördinering en deernis verseker dat oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld die hoogste ondersteuningsvlak ontvang.”

Intussen is Elton Willemse by dieselfde geleentheid aangewys as die beste streekhof-aanklaer in die Wes-Kaap vir vanjaar vir die suksesvolle vervolging van verskeie hoëprofielsake, insluitend ernstige geslagsgebaseerde geweldsake in die Worcester- en Robertson-streekhowe.

Claudius Goliath, die streekhof-beheeraanklaer, sê hy is trots op Willemse se prestasie.

Volgens hom demonstreer hierdie prestasie die krag van die regstelsel binne die Breedevallei. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article