Inge van der Merwe (13) lees graag vir die kleintjies uit ’n storieboek voor.Foto:


Sy is 13 jaar oud en het ’n hart van goud.

Inge van der Merwe is nie net ’n gewone plaasmeisie van die Koue Bokkeveld buite Ceres nie. Sy is ’n model wat hoop om ’n groot verskil deur liefdadigheidsprojekte te maak.

Inge het op tienjarige ouderdom ’n klein skooltjie vir plaaskinders by haar huis begin.

Aan die begin was daar sewe kinders, maar haar skooltjie het deur die jare in getalle gegroei.

Inge het vanjaar twee groot skoonheidskompetisies gewen. Sy is in Pretoria as Miss Petite Teen South Africa 2019 en in Turkye as Miss Teen Universe 2019 gekroon.

Inge sê sy wil haar plaasskooltjie ’n naam gee. “Ek het gedink aan Minions, want die kleintjies hou van die fliek,” vertel sy.

“Die kleintjies kom in die middae ná skool by my ouerhuis bymekaar, dan help ek hulle met skoolwerk, veral wiskunde en Afrikaans en Engels.

“Die grootste bevrediging is wanneer ek hoor ek kon die kleintjies help.

“Ek het eenkeer gehoor hoe een van die kinders se ouers aan haar pa vertel dat daar ’n geweldige verbetering in sy kind se uitslae was,” vertel sy.

Haar plaasskooltjie gaan ook nie net oor skoolwerk nie. Hulle kuier in vakansies lekker saam, dans en eet allerhande lekkernye.

Inge sê sy verwelkom ook tieners by haar skooltjie.

Sy sê nadat sy die titels as ’n volwaardige model gewen het, is die kinders by haar skooltjie nog trotser as ooit vantevore op hul klein instansie.

Sy sê sy het self baie van die kinders by die skooltjie geleer. “Jy moet altyd vriendelik wees en iemand wat ander opgewonde maak oor die lewe,” sê Inge.

Tussen haar liefdadigheidsprojekte, skoolwerk en modelwerk deur probeer sy ook nog tyd maak vir ’n sosiale lewe.

“Ek is ’n mensemens. Ek gesels gewoonlik met almal by die skool en ek het baie maats,” sê Inge.

Sy en haar ma, wat ook haar regterhand is, het ’n projek waarin hulle ou klere van goeie gehalte vir minderbevoorregtes insamel, van stapel gestuur.

Mense wat die projek graag wil ondersteun en klere-items van goeie gehalte wil bydra, is welkom om Juanita by 082 556 2370 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.