Mareletta Mundey, die toerisme-guru van Montagu.

Dit is nie werk nie, maar ‘n passie – een wat duidelik te sien is in die entoesiasme en vindingrykheid waarmee Mareletta Mundey haar werk by die Montagu-Ashton-toerismevereniging doen.

Montagu is een van die suksesverhale in die toeris-mebedryf en wys jaar ná jaar groei. Dié mooi dorp in die Klein Karoo het net 16 000 inwoners, maar ontvang maandeliks meer as 32 000 besoekers.

Die geheim vir hierdie sukses, glo Mundey, die toerismebestuurder van die vereniging, is die samewerking tussen almal in Montagu se toerismebedryf. Daar word reeds tien jaar lank deeglik boekgehou van die gaste wat hulle ontvang. “Volgens die nuutste Wesgro-syfers toon ons vir die negende jaar groei,” het sy vertel.

“Ons ontleed hierdie syfers sodat ons kan sien wanneer is die gewilde tye – watter maande het meer plaaslike besoekers en wanneer verkies die buitelanders om te kom, en ook as besoekers uit nuwe lande opdaag. Dit help ons baie om beplanning te doen sodat ons lede hulself kan voorberei, byvoorbeeld enkelreisigers raak meer, maar ons sien nie so baie ‘backpackers’ nie,” het sy gesê.

“Ons sukses lê in ‘n sameloop van dinge. Ons kan onsself nie op die skouer klop vir die skoonheid wat Moeder Natuur gegee het nie – die berge, die warmbronne, oop ruimtes, Mediterreense klimaat en lieflike landbou met wyn en olywe. Ons het wel goed daarvan gebruik gemaak deur die wêreld daarvan te laat weet.”

Dié stadsmeisie, wat haar tande in die advertensie-bedryf geslyp het, het sewentien jaar gelede Montagu toe verhuis en haar hart op die omgewing verloor. “Montagu is my gunstelingonderwerp en -plek. My gunsteling-ding om te doen is om oor Montagu te praat!” Hierdie entoesiasme is verlede jaar raakgesien toe sy ‘n tweede plek in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se Phenomenal Woman of Passion-pryse ontvang het.

Dinge om te doen

“Montagu het soveel om te bied. Hier is stilte en mense kan die helder sterrehemel kom geniet. Ons is net twee ure van Kaapstad af en dis ideaal vir ‘n wegbreeknaweek.”

Die lys van dinge om te geniet, is lank. Dit sluit in die Robertson-wynvallei asook Klein Karoo-wyne en die Breërivier wat sy eie bekoring bied. “Besoekers kom doen boogskiet, spooktoere, huur fietse, doen historiese toere deur die dorp en pak die staproetes aan. Ons is een van die toptien-rotsklimbestemmings in die wêreld.”

Te midde van die goeie nuus oor die groei van toerisme, is dit vir Mundey belangrik dat die hele gemeenskap baat vind. “Ons kan nie van die mense agterlaat nie. Toerisme moet help dat ons die sosiale weefsel digter weef. Dit speel ‘n groot rol in werkskepping vir jongmense en ons stel hulle op ‘n jong ouderdom aan die geleenthede bekend. Ons werk ook nou saam met die gemeenskapspolisiëringsforum en die polisie, want ons dorp moet veilig wees. In Desembermaande ontvang ons sowat 47 000 besoekers – daarom is dit belangrik dat ons ook met die munisipaliteit skakel om seker te maak die dorp se infrastruktuur kan die invloei hanteer en byvoorbeeld genoeg water verskaf.”

Die planne agter Montagu se suksesverhaal is baie en deeglik. Mundey glo die geheim bly daarin “as ons saamwerk is ons sterker”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article