Hoërskool Goudini in Rawsonville se top-matriekleerder is baie trots op homself.
Eshwill Sibala het ’n gemiddelde punt van 72% in verlede jaar se eindeksamen behaal.
“Ek was die twee dae voordat die punte bekend gemaak is baie senuagtig. Ek het daai twee dae niks geëet nie.”
Die feit dat hy verandering in sy lewe – en dié van ander – wil bring, is wat hom gedurende die eksamen gemotiveer het.
“Ek wil iets van my lewe maak. My omstandighede is nie van die beste nie, en ek wil bo dit uitstyg. Dit is wat my gemotiveer het om hard te leer en alles in te sit.”
Sibala het elke dag by die skool gaan sit en leer en voorberei.
“Dit was net beter vir my om by die skool te gaan sit en leer. Dit was baie stiller daar en ek kon beter konsentreer op wat ek vir die eksamen moes leer.”
Hy is oneindig dankbaar vir sy familie, onderwysers en vriende wat hom deurentyd gemotiveer en aangespoor het.
“Hulle het my altyd gehelp en bygestaan.”
Hoewel hy soms die inperking en regulasies moeilik gevind het, sê hy, het hy “deurgedruk en uitgehou”.
Sibala beplan om LLB aan die Universiteit van Wes-Kaapland te gaan studeer. Hy wag tans om te hoor of hy ’n beurs gaan ontvang.
“Die rede hoekom ek regte wil gaan studeer, is omdat ek ander mense wil help en omdat ek ’n passie daarvoor het.”