“Jessica Michaels het weereens bewys dat jy bo jou omstandighede kan uitstyg,” sê ’n trotse skoolhoof, Arnold Mei. Jessica, verlede jaar se topleerder van Hexvallei Sekondêr, het gr. 12 met ’n B-gemiddelde geslaag al moes sy as plaaskind baie uitdagings trotseer, en al moes sy in haar eindeksamen na haar oupa omsien.
“Sy was nog altyd ’n doelgerigte en hardwerkende leerder, gefokus op haar skoolwerk. Ons het geweet sy gaan goed presteer,” sê Mei.
Jessica is die oudste van drie kinders wat op ’n plaas net buite De Doorns bly. Sy sê sy het nie verwag dat sy so goed sou doen nie. “Ek was verbaas toe ek my uitslae kry. En ek het glad nie verwag om die topleerder te wees nie, maar aan die einde van die dag het my harde werk vrugte afgewerp.” Sy sê wat haar gedryf het, was dat sy op ’n plaas bly en graag bo haar omstandighede wou uitstyg. Sy wou ook nie haar ouers en onderwysers teleurstel nie.
Sy vertel verder: “Ek moes die eerste twee jaar van hoërskool in die dorp loseer omdat ek nie bus kon ry nie. En toe ek bus kon begin ry, was dit nie altyd gemaklik nie omdat die busse soms baie vol raak en as een van die busse breek, moet ons wag.”
Maar dit het haar nie ondergekry nie; sy het aanhou hard werk.
Jessica moes in haar eindeksamen na haar oupa omsien maar sê sy het elke oomblik geniet. Sy skryf haar sukses toe aan die volgehoue ondersteuning van haar ouers, sussies en onderwysers: “Hulle het my altyd aangemoedig en ondersteun en daarvoor is ek baie dankbaar.” Sy gaan vanjaar haar aan die Universiteit Stellenbosch studeer waar sy ’n volle beurs ontvang het om joernalistiek te studeer.