Chriszelda Brown, die toppresteerder by die Hoërskool Brëerivier, meen jy moet selfsugtig met jou tyd wees wanneer jy in jou matriekjaar is.
Chriszelda, wat ook verlede week in Stellenbosch ’n sertifikaat van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit ontvang het vir haar toegewyde werk, sê dit is wat sy gedoen het om die sukses te behaal.
“Dit is belangrik dat jy jou tyd goed bestuur. Dit wat jy normaalweg gedoen het, gaan nie die jaar werk nie. Dit is wat ek gedoen het. As jy die beste wil hê of die beste wil wees, dan moet jy sekere dinge prysgee,” het sy aan Standard gesê.
Chirszelda voeg by dat harde werk nie aan die begin van die eindeksamen begin nie.
“Die dag wat jy jou matriekjaar begin, moet jy begin hard werk. So sal jy die vrugte daarvan pluk en sukses behaal. Niks kom vanself nie.”
Chriszelda gaan dié jaar regte by die Universiteit van Wes-Kaapland studeer.
“Toe ek na Stellenbosch se opedag gegaan het, was dit die enigste beroep wat ek interessant gevind het. Van dag een af wou ek ’n prokureur word. Ek het eers gedink dat ek onderwys sou gaan studeer omdat my pa ’n onderwyser is, maar het daarteen besluit,” het sy vertel.
“Ek sien baie uit na my eerste jaar op universiteit. Dit gaan uitdagend wees, maar ek weet dat ek baie gaan leer.”