Nagenoeg 1 300 toutrekkers het Vrydag 13 en Saterdag 14 Maart by HTS Drostdy aan die SA juniorkampioenskap deelgeneem.
Die deelnemers, van graad 1 tot matriek, het in 305 spanne van reg oor die land in die kompetisie meegeding.
Die kollig was veral op die 560 kg- o.19-seuns, die 480 kg- o.19-meisies en die 520 kg- o.19- gemengde span. Die wenners in hierdie kategorieë het junior Protea-kleure ontvang en gaan Suid-Afrika na verwagting in September vanjaar by die Wêreldkampioenskap in Spanje verteenwoordig.
“Dit was vir ons skool ’n merkwaardige prestasie om so goed in die kampioenskap te vaar. Ons leerders werk baie hard om hul liggame sterk te maak vir die kompetisies en in die laaste week het party van die leerders amper nie eens geëet nie om seker te maak hul gewig is in die kol vir die kompetisie,” sê Corlia Theron, ’n onderwyser by Hoërskool Swellendam.
Dié skool het in die topkategorieë uitgeblink. Hul 480 kg- o.19-meisies het as die kampioenspan van die veld gestap en sal hul land internasionaal verteenwoordig. “Die passie wat ek onder die leerders vir toutrek sien, is pragtig en dit bou ’n fantastiese gees onder hulle. As hulle die soort sukses behaal wat hulle die naweek behaal het, maak dit die bloed, sweet en stof eet die moeite werd,” sê Theron.
Hoërskool Swellendam het 32 seuns en 17 meisies na die kompetisie gestuur en het sterk vertoon.
Een van die beamptes wat harde werk agter die skerms insit en verseker dat daar finansiering vir Toutrek Suid-Afrika is, is Kobus Marais, ’n parlementslid wat self ’n groot passie vir die sport het.
“Die SA junior kampioenskap wat vanjaar by HTS Drostdy gehou is, word as ’n reusesukses beskou. Hier was skole van reg oor Suid-Afrika, en om te sien hoe die jong mense hul passie uitoefen, was iets om te aanskou,” sê Marais.
“Daar was seuns en meisies van alle kulture en agtergronde by die byeenkoms te sien en dit is ’n wonderlike geleentheid vir Suid-Afrikaners om trots te wees – en vir nasiebou.”
Marais het genoem dat finansiering effens moeilik was om van die staat te kry, maar hulle kon nie anders as om te belê in die jong atlete wat soveel harde werk en dissipline aan die sport wy nie.
“Vir Worcester, wat hierdie jaar 200 jaar oud is, was dit ook besonders om te sien dat die jong mense hier so ’n merkwaardige kompetisie kon hê. Dit was ook ’n positiewe inspuiting in die plaaslike ekonomie,” sê Marais.
Een van die afrigters wat reeds agt jaar by die sport betrokke is, MC Willemse, het aan Standard gesê die harde werk wat in so ’n kompetisie ingaan, moenie onderskat word nie.
Hoërskool Swellendam se spanne het weekliks sowat ses keer geoefen en elke sessie het twee tot drie uur lank geduur.
Toutrek Suid-Afrika het ook die spanne in die junior kategorieë gelukgewens met hul vertoning in die kaalvoet-afdelings.
Skole soos Suurbraak, Bontebok, Breërivier en Herbertsdale het bestendig vertoon in dié kategorieë, wat trots Suid-Afrikaans is.
“Die kampioenskap was die grootste wat nog ter wêreld aangebied is en is ook beskryf as die beste een nog,” sê Arthur Underhay, die hoof van HTS Drostdy.
“ ’n Meksikaanse golf is in ’n stadium reg rondom die toutrekbane deur die deelnemers en ondersteuners uitgevoer, wat ’n hoendervleis-oomblik was. Dit het die gevoel van eenheid wat geheers het, tussen almal wat betrokke was, uitgebeeld.”