Breedevalleiers kan hul warm jasse aantrek vir die groot koue front wat die naweek op pad is. Dit is die eerste van ‘n reeks koue fronte wat oor die volgende week die Wes-Kaap gaan tref, sê die SA Weerdiens.
Die minimumtemperatuur oor die Breedevallei sal enkeltallig wees en die temperatuur sal so laag as 6°C daal. Die maksimumtemperatuur wat vir die naweek verwag word, is 16°C. Die koue front bring ook reën en sneeu. Volgens SnowReportSA kan daar sneeu op pieke van die Matroosberge en Du Toitskloofberge verwag word.
Maar dit is veral die Vallei se haweloses wat baie weerloos teen die koue is.
Theo Bergh (58), wat voorheen vir bykans ses maande op straat in Worcester geslaap het, sê om haweloos te wees tydens die winter is tien keer erger as ander tye van die jaar. Hy woon nou in die Nuwe Begin-skuiling in Riverview.
“Dis koud en dit reën. Dis seer om buite te wees, dis seer om nat te wees. Om haweloos en nat te wees vat aan jou menswaardigheid. Jy voel soos ’n dier. Soms het dit vir by gevoel my vingers sal nie weer regkom nie. Dis ’n seer wat ’n pil nie kan regmaak nie. Dis nie lekker om koud te kry nie,” sê Bergh.
Hy sê haweloses het metodes om teen die koue te skuil. Gewoonlik slaap hulle in hoekies en op areas wat jou teen die ergste wind en reën beskerm.