Sakkie Majiedt (Ramkappie), Brandt du Plessis (Hoërskool Montana), Christiaan van Zyl (Priority Care-ambulansdienste) en Hansen Preuss (HTS Drostdy) het vanoggend tyd in die tronk spandeer as deel van die ASD Sean Kelly Sentrum se Jail Break-fondsinsameling. Om hul vryheid te bekom moes hulle ‘n sekere bedrag insamel en het op vriende, familie, kollegas en sakelui se knoppies gedruk om hul “borg” te betaal.

Verskeie ander sakelui en inwoners het ook vanoggend (23 Mei) “tyd in die selle” deurgebring by die Lions Club se perseel.

In die tronk tot julle betaal! Dié Worcester-inwoners het die oggend agter tralies spandeer om fondse vir die ASD Sean Kelly-sentrum te help insamel.

Van die negentien mense wat opgesluit was, het net ses geweet wat gaan gebeur. Die ander is heeltemal onkant gevang toe die veiligheidsdienste hulle in die vangwa wou laai.

Die sorgsentrum sien om na veertig kinders wat veelvuldige gestremdhede het. Hulle het ook sestien kinders wat in hul residensiële-eenheid bly.
“As dit nie vir die sentrum was nie, sou die kinders tuis moes bly. Nou kry hulle die nodige stimulering in ‘n omgewing wat hulle aanvaar net soos hulle is,” het Nicky Labuschagne, die sentrum se bestuurder, gesê.

Die fondsinsameling sal vir die volgende week voortduur. Diegene wat die sentrum wil ondersteun, kan Labuschagne skakel by tel. 082 895 8432.

You need to be Logged In to leave a comment.