Die Tulbaghdam sal genoeg water aan die dorp verseker én ontwikkeling in die
omgewing ontsluit.
Pemmy Majodina, die minister van water en sanitasie, het die waterverskaffingsprojek, wat altesaam R113 miljoen beloop het, die afgelope Vrydag (6 Junie) aan die Witzenberg-munisipaliteit oorhandig.
Tulbagh het in droogtetye dikwels nie genoeg water nie. Beplande behuisingsprojekte is ook vertraag omdat nie genoeg water voorsien kon word nie.
Die departement van water en sanitasie het R43 miljoen in die laaste fase van die projek bestee terwyl die munisipaliteit R5 miljoen bygedra het.
Die dam het ‘n inhoudsvermoë van 1,2 miljoen kubieke liter. Pyplyne is ook aangelê en ‘n pompstasie is opgerig.
Die private sektor het bygedra deur ‘n geskikte ligging vir die dam te vind en die grond te verkry.
OmniGro beplan ‘n behuisingsontwikkeling in Tulbagh, maar kon nie voortgaan nie omdat te min water beskikbaar was. Dié projek beteken sy plan vir 1 350 behuisings-eenhede op 366 ha langs die dorp kan nou voortgaan.
“Ons het water nodig sodat die dorp vooruit kan gaan. Op die Water-indaba wat verlede maand gehou is, is weer eens bevestig dat dit een van ons grootste prioriteite moet wees. Die syfers wys dat 46% water in Suid-Afrika verlore gaan as gevolg van lekkasies. Ons moet kyk na wat by ons munisipali-
teite gebeur,” sê Majodina.
Majodina is trots daarop dat van elke sent wat op die projek uitgegee is, rekenskap gegee kan word. Die Witzenberg-munisipaliteit, wat verlede jaar as een van die topmunisipali- teite in die land aangewys is, het sy hulp om water te bestuur, aan sukkelende munisipaliteite aangebied.
Die dam is tans 60% vol en sal help om water te berg sodat die opgaardamme in die dorp tydens droeër tye vol gehou kan word.
As deel van die projek is ‘n pyplyn aangelê wat water vir landbou-doeleindes sal ontsluit.
Die ontrekkingspyplyn kan 140 liter per sekonde pomp.
Die dam sal water aan sowat 10 000 mense in die omgewing verskaf.


