Twee susters van Worcester is onder die agt mense wat Vrydagaand in drie afsonderlike ongelukke op die N1 net buite Rawsonville dood is.
Die susters Caylynn (20) en Cara-Lee Jordaan (16) se pa, Clive, het Sondagoggend aan Standard bevestig dat sy oudste dogter swanger was ten tyde van die ongeluk. Cara-Lee was ‘n graad 10 leerder aan die Hoërskool Montana.
Boodskappe van medelye het op sosiale media ingestroom na die dood van die twee susters.
Dié ander person wat in die ongeluk dood is waarin die Jordaan-susters gesterf het, is Jason Jordaan van Stellenbosch. Jason en die twee susters is nie familie van mekaar nie. Jason se broer Estian het Sondagoggend bevestig dat hy ook in die ongeluk oorlede is.
Volgens die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, het dié botsing reg van voor omstreeks 19:00 net verby die Rawsonville-weegbrug gebeur.
Montana het Saterdag ‘n boodskap van medelye op hul Facebook-blad gedeel en die nuus van Cara-Lee se afsterwe bekend gemaak. “Mag die Here self hierdie familie in hierdie tyd vertroos en ondersteun. Ons innige simpatie met die groot verlies,” lees die inskrywing.
Africa sê in die tweede ongeluk, wat in die rigting van die Hugenotetonnel gebeur het, het twee vragmotos en ‘n ligte voertuig, omstreeks 19:15 met mekaar gebots. Dié ongeluk was slegs 800m van waar die eerste ongeluk gebeur het. Vier vroue is in dié ongeluk dood.
“Die eerste vragmotor en die ligte voertuig het baie stadig in die linkerbaan gery toe die tweede vragmotor die agterkant van die motor getref het. Die motor is toe soos ‘n blikkie tussen die twee vragmotors platgedruk,” sê Africa.
Die bestuurder van die tweede vragmotor is hospitaal toe geneem vir behandeling.
In die derde ongeluk, wat ook in die Rawsonville-omgewing plaasgevind het, het ‘n voertuig glo ‘n voetganger noodlottig getref. “Ons het tans geen verdere besonderhede oor die ongeluk nie,” sê Africa.