Ná bykans ’n halfeeu se afwesigheid is een van die Wes-Kaap se mees geheimsinnige soogdiere weer op kamera vasgevang – die Boosmansbos-langstertbosspitsmuis (Myosorex longicaudatus boosmani). Dié klein, skaars diertjie is laas in 1979 opgeteken en het sedertdien soos ’n mitiese wese uit die geskiedenis verdwyn – tot nou.
’n Span bewaringskundiges van CapeNature, die Grootvadersbosch Conservancy, Helihack en vrywilliger-bioloë het die opwindende ontdekking gemaak aan die rand van ’n ongerepte woudgebied in CapeNature se Boosmansbos Wildernisgebied.
Die spesie is oorspronklik in 1979 deur die wetenskaplike Nico Dippenaar beskryf en as ’n unieke subspesie erken – geografies afgesonder van sy naaste familie deur die Gouritzvallei. Weens hul beperkte verspreiding, verlies aan woudhabitat en klimaatsverandering, is die muisagtige diertjie in 2016 as kritiek-bedreig op die IUBN se Rooilys geplaas.
Met slegs Dippenaar se oorspronklike veldnotas en habitatbeskrywings as leidraad, het die span vanjaar hul vierde poging in vier jaar aangepak om die spitsmuis op te spoor. Dippenaar, nou afgetree, het die span sterkte toegewens en het die spesie liefdevol beskryf as “’n regte ou skattebol”.
Die ekspedisie het van 3 tot 6 Mei plaasgevind, en op 4 Mei het een van die 76 lokvalle uiteindelik dié skaars diertjie gevang – ’n blinkoog bosspitsmuis met ’n stert van 6 cm, wat net 13.7 gram weeg. Die muis is versigtig gemeet, afgeneem, en weer vrygelaat in die bos-habitat.
“Ek kan nou uiteindelik dié klein muisie van my biologiese emmerskoplys afmerk,” het Dr. Marienne de Villiers, ekoloog by CapeNature, gesê. “Vir my was dit soos om ’n eenhoring te probeer vind – iets wat jy nie rêrig glo jy ooit in lewende lywe sal sien nie. Dit is wonderlik om te weet dat ten minste ’n deel van hul habitat steeds goed beskerm word.”
Vorige pogings met standaard knaagdier-lokvalle was onsuksesvol, en hierdie keer het die span op ‘n nuwe metode staatgemaak. Omdat die wildernisgebied onbegaanbaar is vir voertuie, was dit egter ‘n logistieke uitdaging om al die toerusting daar te kry. Gelukkig het Helihack – ’n projek wat helikopters gebruik om indringerdenne in ontoeganklike gebiede te verwyder – ingespring om die span en hul toerusting in die berg in te vlieg.
Elke lokval is met sorg voorberei – met sagte bedekking, beskutting en selfs ’n erdwurm of twee vir kos. Aanvanklik het die lokvalle niks opgelewer nie, maar teen die einde van die ekspedisie was daar groot vreugde toe die legendariese bosspitsmuis uiteindelik haar opwagting maak.
’n Genetiese monster van die dier sal nou ontleed word om hul verwantskap met ander muise te bepaal. Verder is daar nog heelwat om te leer oor die spesie se gedrag, voortplanting en hoe groot sy oorblywende bevolking is.
Vir nou is daar rede om fees te vier – die Boosmansbos-langstertbosspitsmuis leef steeds, en haar geheime wêreld diep in die woud bly vir eers beskerm.


