Worcester Victorians het Saterdag 8 Januarie Tulbagh Pioneers op Esselenpark die stryd aangesê.
Tulbagh se kaptein, Craig Louw, wen die loot en besluit om die manne van Victorians in te stuur om eerste te kolf. Victorians se openingspaar, Rumark Wildskut en Ettienne Klein, begin die beurt baie goed en teken ’n 50-lopie- vennootskap aan. Ná die val van die eerste paaltjie verloor die manne van Viccies met reëlmaat hul paaltjies. Victorians word almal vir slegs 136 lopies in 43.3 boulbeurte uitgehaal.
Vir Victorians teken Rumark Wildskut 31 lopies aan, Ettienne Klein kry 24 lopies, Fredlin Visser 24 lopies en Rico Solomons kry 17 lopies.
Die manne wat die paaltjies vir Pioneers laat kantel het, was G. Kennedy wat vier paaltjies geneem het vir slegs 14 lopies in 10 boulbeurte, G. Fredericks het twee paaltjies vir 31 lopies in agt boulbeurte geneem en H. Johannes het twee paaltjies vir 24 lopies in vyf boulbeurte geneem.
Tulbagh gaan hierna kolf en word sommer van meet af onder druk geplaas deur skitterende boulwerk van die manne van Viccies. Pioneers word almal in 44 boulbeurte vir slegs 130 lopies kleedkamer toe gestuur, wat aan Victorians ’n oorwinning van slegs ses lopies gee.
Vir Tulbagh is dit slegs A. Carnow en A. Meyer wat enigsins weerstand met die kolf kon bied. Carnow teken 44 lopies aan en Meyer kry 20 lopies.
Die uitblinker met die bal asook speler van die wedstryd was Derrick Solomons wat geskitter het. Hy neem vyf paaltjies vir slegs 11 lopies in sy toegelate 10 boulbeurte. Alreeck Conradie neem twee paaltjies vir 23 lopies in sy 10 boulbeurte. Die naweek reis Viccies na De Doorns om die manne van Hexvallei te pak terwyl Tulbagh besoek van Moslems ontvang.