Vakansieprogram leer kinders talle lewenslesse

’n Prettige vakansieprogram is die afgelope vakansie vir leerders by Avianpark Primêre Skool aangebied.


’n Prettige vakansieprogram is die afgelope vakansie vir leerders by Avianpark Primêre Skool aangebied.

Dié vakansieprogram het van 19 tot 21 Maart geduur. Een van die organiseerders, Levinia Pienaar, sê die program is aangebied om vir leerders die belangrikheid van stories te leer en ’n gewoonte om stories te skryf te kweek.

“Ook om die leerders aan fotografie bekend te stel, om die gevaar van boelie en groepsdruk deur middel van rolspel te demonstreer en ’n les dat jou agtergrond nie jou toekoms hoef te bepaal nie,” sê Pienaar.

Die leerders is deur flieks en rolspel vermaak, maar het sommer tegelykertyd lewenslesse hierdeur geleer.

Azzah Hajie, ’n gr. 10-leerder van Esselenpark Sekondêre Skool, het ’n toespraak gelewer. Hajie is die provinsie se junior kommissaris vir die misdaadintelligensie-eenheid van die polisie.

Rogail Joseph, ’n kranige atleet, het ’n toespraak oor groepsdruk gelewer.

“Daardie vriende wat jy dink jou belange in ag neem, is dieselfde mense wat net wil hê jy moet ook val in die lewe. Hulle wil hê jy moet soos hulle ongelukkig wees. Moenie ingee daarvoor nie. Bly gefokus op wat jy weet reg is, wat jy in die huis en in die kerk geleer het en hou vas daaraan,” het Joseph gesê.

Die vakansieprogram is deur LeNica Production in samewerking met Avianpark Primêre Skool, die organisasie sonder winsbejag, Passion Abundance Angels, sektorbestuurders van Avianpark en munisipale gemeenskapswerkers aangebied.

Pienaar bedank almal wat bygedra het tot die sukses van die vakansieprogram.

You need to be Logged In to leave a comment.