Ambagte is nodig om die ekonomie te laat groei.
Daarom het Boland Kollege in Worcester onlangs sy sentrum vir spesialisasie bekendgestel. Dié sentrum sal veral op sweiswerk fokus.
Die departement van hoër onderwys en opleiding gaan 26 sentrums vir spesialisasie bekendstel om die 13 beroepe waarin handelsvaardighede in groot aanvraag is, te verminder.
Die sentrums is by 26 kolleges reg oor die land opgerig.
Hannes Gelderblom, waarnemende hoof by Boland Kollege, sê die kolleges is deur onderwys- en nywerheidskenners gekies om die aanvraag na handelsvaardighede uit te wys.
“Die kolleges sal voorsien word van hulpbronne om werkwinkels en toerusting op te gradeer. Die sentrums is ook die regte plek om studente voor te berei vir die werkplek of om selfstandig te werk,” sê Gelderblom.
Vennootskappe tussen kolleges en werkgewers sal help om geleenthede vir werkgeïntegreerde opleiding te vind, asook om studente te plaas wanneer hulle hul kwalifikasies voltooi.
“Ambagte wat nodig is om die ekonomie te laat groei, is onder meer elektrisiëns, meulwerktuigkundiges (millwrights), ketelmakers, loodgieters, dieselwerktuigkundiges en sweiswerkers.”
Morris Maroga, president van die Suid-Afrikaanse instituut vir sweiswerk, het gesê hy is trots om deel van dié bekendstelling te wees.
“Dit is cool om in 2018 ’n vakman te wees. Daar is ’n groot aanvraag na vakmanne in die land. Dit sal tot voordeel van die land en die ekonomie wees as daar meer vakmanne is. Vakmanne wat hul eie ondernemings het, kan ander vakmanne in diens neem. Meer vakmanne beteken meer werkgeleenthede en meer werkgeleenthede beteken ’n beter ekonomie. Ek moedig die bedryf aan om aan dié inisiatief deel te neem,” sê Maroga.
Ettienne Nel, wat die program gaan lei, sê wanneer ’n student sy kwalifikasies het, sal hy in 58 lande kan gaan werk.
“Amerika het in 2014 ’n groot aanvraag na sweiswerkers gehad. En vandag is dit nog meer. Die program is daarop gefokus dat die student nie net teoretiese opleiding kry nie, maar ook indiensopleiding ontvang.
“Daarom speel die sweisbedryf, asook ander, ’n baie belangrike rol in die program.
“Ons het sake en maatskappye nodig wat die hand sal opsteek en sê hulle is bereid om betrokke te raak. Daardeur kry die student nie net indiensopleiding nie, maar sal ná ’n jaar of twee ’n permanente werk hê,” sê Nel.