Skole in die Breedevallei- en Langeberg-streek het oor die algemeen goed gevaar in die onlangse matriekuitslae, wat Vrydag (19 Januarie) bekend gemaak is.
Die Wes-Kaap se algehele slaagsyfer was 81.,5% – ’n verbetering op verlede jaar se syfer, volgens die Wes-Kaapse departement van onderwys.
Altesaam 50 520 kandidate het die 2023-matriekeindeksamen geslaag.
“Elkeen van ons kandidate wat geslaag het, het aan die vereistes voldoen om toegang tot hoër onderrig te kry, met 26 182 kandidate (42,2%) wat met toelating tot ’n baccalaureusgraad kwalifiseer om universiteit by te woon – ons hoogste getal baccalaureustoelatings nog,” het David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, in ’n verklaring gesê.
Die provinsie pronk ook met 24 982 vakonderskeidings – die tweede hoogste in die land.
“Dit is ’n ongelooflike prestasie in die lig van die gebeure van 2023, insluitend ’n verwoestende minibustaxi-staking en ’n onwettige blokkade van leerlingvervoer in Khayelitsha, massiewe oorstromings en voortdurende verlammende beurtkrag. Wat selfs meer indrukwekkend is, is dat die retensiekoers van gr. 10 tot 12 ook tot 69, 3% gestyg het. Om beide die slaagsyfer en die retensiekoers in ’n positiewe rigting te laat beweeg, is ’n moeilike taak, en ons is bly dat meer van die gr. 10-klas van twee jaar gelede geskryf en hul matriekeindeksamen geslaag het. Boonop is ses van ons uitstaande kandidate tydens die regstreekse aankondiging deur die nasionale minister erken, insluitend die topkandidate in die land en die topkandidaat met spesiale behoeftes.”
’n Leerder van ’n Worcesterse skool, Amahle Jemane, is aangewys as die tweede beste leerder in Suid-Afrikaanse gebaretaal.
’n Meerderheid van die distrikte in die Wes-Kaap het ’n slaagsyfer van bo 80% behaal.
Skole in die Breedevallei se slaagsyfers:
. De Kruine Sekondêre Skool – 81. 4%
. Hoërskool Hexvallei – 82. 5%
. HF Van Cutsem Hoërskool – 71. 6%
. Hexvallei Sekondêre Skool – 61. 1%
. Zwelethemba Hoërskool – 44. 5%
. Vusisizwe Sekondêre Skool – 59. 4%
. Esselenpark Sekondêre Skool – 44. 7%
. Worcester Sekondêre Skool – 46. 1%
. Breërivier Hoërskool – 54. 3%
. Hoërskool Somerset – 82. 2%
. De la Bat-Skool – 85. 7%
. Montana Hoërskool – 97. 1%
. Worcester Gimnasium – 99. 0%
. HTS Drostdy – 99. 5%
. Brandvlei-gevangenis – 100%
. Hoërskool Goudini – 94. 6%
Skole in die Langeberg se slaagsyfers:
. Ashton Openbare Gekombineerde Skool – 72.5%
. Ashton Sekondêre Skool – 57.9%
. Bonnievale Hoërskool – 96.5%
. Jakes Gerwel Tegniese Skool – 90.9%
. Langeberg Sekondêre Skool – 66.8%
. Masakheke Gekombineerde Skool – 57.5%
. Hoërskool Montagu – 97.7%
. Hoerskool Robertson – 100%
. Robertson Logos Christen Skool – 100%