Baie Worcesteriete sal hom onthou as die nimlike Shrek in Gimmies se verhoogproduksie met dieselfde naam.
Nie net is hy ’n talentvolle akteur nie, maar die hoofseun van Worcester Gimnasium. Janco Nel is een van die skool se 32 leerders wat ’n A-gemiddelde behaal het en met ses onderskeidings en drie vakke bo 90% spog.
Volgens Janco was die matriekeksamen glad nie so moeilik soos hy verwag het nie en was hy deeglik voorberei omdat hy dwarsdeur die jaar baie hard gewerk het en voor die eksamen basies hersiening gedoen het.
Die ekstra moeite en ondersteuning van sy vakonderwysers was ook van onskatbare waarde.
As ’n uiters bedrywige en entoesiastiese leerder was dit nie altyd maklik vir Janco om sy beste op alle gebiede te lewer nie en ook sy akademie op standaard te hou. In sy matriekjaar was Janco ’n baie betrokke en toegewyde hoofseun, sanger in die VCSV-band en Saterdae as dirigent van die Geesbougroep altyd teenwoordig op die pawiljoen.
Janco sê dat sy matriekjaar die lekkerste jaar van sy lewe was, ’n jaar waarin hy waardevolle lewenslesse geleer het. Hy beplan om B.Com Bestuursrekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.