Jeneveve Alkaster, Hoërskool Tulbagh se veelsydige topmatrikulant van 2015, is op pad universiteit toe om regte te studeer.
Sy vertel trots van haar drie onderskeidings en die gees in die skool. “In 2013 is ek ingeskryf by Hoërskool Tulbagh.
“Om in gr. 10 in ’n nuwe skool in te loop is scary, maar die personeel en my nuwe skoolmaats het my dadelik tuis laat voel en ek kan hulle beskryf as familie.”
Jeneveve het onmiddellik begin netbal speel en is in die eerste kwartaal al gekies as ’n kringleier vir die Christenstudentevereniging (CSV). Die volgende jaar, asook in haar laaste jaar, was sy ’n lid van die verteenwoordigende leerlingraad.
Oor die matriekeksamens sê sy: “Die skool se personeel het so baie moeite gedoen om te verseker dat almal goed vaar.
“Hulle het groepe oopgemaak op Facebook waar elke vakadviseur wenke verskaf het oor aan watter hoofstukke ons aandag moet gee vir die eksamen.
“My finale punte aan die einde van die dag was ’n skok, maar ’n goeie skok.”
Jeneveve sê LLB Regte by die Universiteit van Wes-Kaapland is volgende. Klasse begin 15 Februarie.
“Ek sien uit na die nuwe uitdaging en dank God, my ondersteuningsraamwerk en my ouers vir die hulp en spasie wat my deur die finale jaar gekry het.”