Die Covid-19-pandemie is toenemend besig om ’n emosionele impak op elkeen van ons te maak en die behoefte om psigies bemagtig te word teen hierdie aanslag toon ’n al groter voorkoms.
Oktober is Emosionele Welstand-bewustheidsmaand en die Leerderondersteuningsdienste van die Kaapse Wynland-onderwysdistrik, in medewerking met Goeie Hoop Sielkundige Dienste, wil graag hierdie tema vier in samewerking met alle skole in die KWOD.
Hierdie viering sal neerslag vind in ’n opwindende veldtog waardeur ons skoolgemeenskappe wil uitdaag en aanmoedig om deur middel van verskillende aktiwiteite emosionele welstand sigbaar te maak binne die skoolgemeenskap.
Die Leerderondersteuningsdienste van die KWOD, in medewerking met Goeie Hoop Sielkundige Dienste, nooi die skoolgemeenskap om hieraan deel te hê van 11 tot 22 Oktober.
Die eerste stap in skooldeelname is om ’n emosionele welstand-ambassadeur by jou skool aan te wys. Dié persoon moet bereid wees om met entoesiasme die veldtog by die skool te dryf en aktiwiteite aan te bied.
’n Skatkis met idees oor temas vir elke dag van die veldtog en aktiwiteite wat aangebied kan word, kan verkry word deur Mental Health Treasure Box (ctrl+click).
’n Skakel na Good Hope Psychological Service’s Sticker Drive Campaign sal ook inligting oor hierdie veldtog verskaf.
Die doel met hierdie bewusmakingsveldtog is om almal (leerders, opvoeders en ouers) bewus te maak van die wyses en geleenthede wat bestaan om hul eie emosionele welstand te bevorder en die bydrae wat hulle kan lewer om almal rondom hulle hiermee te ondersteun.
Indien jy enige navrae het, is jy welkom om senior sielkundige Sanel Vos by sanel.vos@westerncape.gov.za te kontak.