Samantha Krzandalsky by ‘n foto van Lauks en twee kerse wat sedert sy moord in Heroldt’s Pub and Grub in Tulbagh. Foto: Ronél van Jaarsveld


Die verdagte in die moord op Karl Lauks (73) van Tulbagh, het Maandagoggend (9 Junie) in die hof op dié dorp verskyn. Die saak is uitgestel tot 17 Junie vir ‘n borgtogaansoek.

Vriende van Lauks het inwoners gevra om saam met hulle voor die hof te vergader om hul ontsteltenis oor die voorval te kenne te gee. Die verdagte, sowel as ‘n groep ander mans, is volgens hulle berug daarvoor dat hulle ouer, enkellopende mans en vroue teiken.

Lauks is verlede Maandagoggend (2 Junie) dood in sy motor in die oprit van sy huis in Piet Retiefstraat in Tulbagh deur ‘n buurvrou gevind. Volgens berigte wou dit voorkom asof ‘n serp in sy mond gedruk is en hy versmoor is. Christaan Witbooi (29) is daarna in hegtenis geneem en het Woensdag (4 Junie) in die hof verskyn. Die saak is tot vandag uitgestel sodat hy regsverteenwoordiging kan kry.

Samantha Krzandalsky, wat na aan Lauks was, sê dat hy die teiken was van verskeie aanvalle. “Hy het in vrees gelewe en was bang om saans huis toe te gaan. Daar is herhaaldelik by hom ingebreek. Een van die mans is reeds in die tronk, maar die man wat nou gevang is, het Karl en ander ouer mense wat alleen woon geteiken en gereeld moeilikheid gemaak.”

Tydens die inbrake, wat selfs gebeur wanneer Lauks tuis was en geslaap het, is goed gebreek, deure afgeskop en koperpype uit die mure gekap. “Hy het naderhand moed opgegee en nie eers meer skade reggemaak nie,” het Krzandalsky gesê.

Lauks het sy skouer ‘n ruk gelede na ‘n val gebreek en was minder mobiel daarna.

Lauks se pitbull, waarna hy verwys het as “Crocodile”, was in die huis ten tyde van sy moord. Sy was egter oud en het kanker gehad en moes ongelukkig verlede week vankant gemaak word.

Karl Lauks
‘n Vroeëre foto van Karl Lauks. Foto: verskaf

Geliefd in die gemeenskap

Lauks, ‘n Britse burger wat nie familie in Suid-Afrika het nie, het as ‘n bestuurder in die tekstielbedryf gewerk.

“Sy werkgewer het hom baie jare gelede Suid-Afrika toe gestuur vir werk en hy het besluit om te bly,” vertel Krzandalsky waar sy langs Lauks se gunstelingstoel in die Herold’s Pub and Grub sit. “Sy vrou is op 45 aan kanker oorlede. Ons het mekaar vier jaar gelede in Tulbagh ontmoet ná ek hierheen verhuis het na my man se afsterwe. Ons het baie geheg aan mekaar geraak en hy het na my verwys as sy aanneem-dogter.”

Inwoners beskryf Lauks as ‘n stil man wat baie geliefd was in die gemeenskap. Hy was ‘n bekende gesig by kuierplekke in die dorp waar hy rustig ure lank aan ‘n bier sou drink. “Hier by die restaurante en kroeë waar hy kom eet het, was die mense vir hom soos familie,” het inwoners vertel.

By Heroldt’s word daar met hartseer gepraat oor Lauks se afsterwe. “Ons sal sy sê-goed onthou. Hy het altyd gesê ‘Got to go and feed my Crocodile‘, verwysend na sy pitbull. En ‘No ice, ice is for Eskimo’s‘. Ons beplan om ‘n naamplaatjie ter herdenking van hom op die kroegtoonbank by sy sitplek te plaas.”

“Ons almal het na hom omgesien. Hy het niemand leed aangedoen nie en nie verdien om so te sterf nie,” het Krzandalsky gesê.

Samantha Krzandalsky en Karl Lauks was baie geheg aan mekaar. Foto: verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.