Verrassing vir Glen Heatlie

Glen Heatlie Primêr, ’n skool buite Worcester, het ’n aangename verrassing ervaar toe hulle Vrydagoggend ’n skenking van ’n maatskappy ontvang het.


Glen Heatlie Primêr, ’n skool buite Worcester, het ’n aangename verrassing ervaar toe hulle Vrydagoggend ’n skenking van ’n maatskappy ontvang het.

Die maatskappy, International Mining and Dredging Holdings, het aan die skool ses rekenaars, 45 matrasse, beddegoed, ’n boks sanitêre doekies en R5 000 geskenk.

Anneline Vester, wat twee maande gelede as onderwyser by die skool aangesluit het, sê sy het gesien daar is ’n behoefte by die skool en ’n plan beraam om skenkings vir die skool te kry.

“Ek het by mense begin vra vir skenkings. Ek het toe uitgekom by Ernest Magerman van die maatskappy. Hy het toe vir my gesê hulle sal ’n skenking aan die skool maak,” vertel Vester.

Sy sê hulle is geseënd om die skenking te ontvang.

“Ek kon gisteraand nie ’n oog toemaak nie so opgewonde was ek. Dit is wonderlike seëninge wat ons ontvang het. Ernest het belowe dat ons ’n prioriteit sal bly vir die maatskappy en dat hulle sal aanhou om goed aan ons skool te skenk.”

Die skoolhoof, Aubrey Lawrence, sê dié skenking kom handig te pas.

“Dit is soos manna uit die hemel. Waar in vandag se lewe kry jy mense wat sulke skenkings aan skole maak? Ons is baie dankbaar vir dit wat die maatskappy aan ons geskenk en nog gaan skenk,” sê Lawrence.

You need to be Logged In to leave a comment.