Worcester Victorians het Saterdag 15 Januarie die span van Hexvallei behoorlik tydens hul wedstryd op Hexvallei, De Doorns, afgeransel.
Victorians se kaptein, Peter Verhoog, het die loot gewen en besluit om die manne van Hexvallei in te stuur om eerste te kolf.
Hexvallei het van meet af aan teen die verwoestende boulaanval van Viccies gesukkel. Hexvallei is almal vir ’n skamele 65 lopies in 29 boulbeurte kleedkamer toe gestuur. Slegs een kolwer van Hexvallei het dubbelsyfers aangeteken.
Die uitblinker met die bal vir Victorians was weer eens die veteraanbouler Derrick Solomons, wat verlede week se vyf paaltjies met vier paaltjies vir slegs 14 lopies in nege boulbeurte opgevolg het; Alreec Conradie wat twee paaltjies vir 24 lopies in 8.4 boulbeurte geneem het; Willa Wildskut met twee vir twee in 1.2 boulbeurte en Brandon Ceasar met een vir 10 in vyf boulbeurte.
Victorians het hierna die verlangde wenlopies sonder enige moeite in slegs 13.4 boulbeurte aangeteken.
Viccies het op 68 vir die verlies van drie paaltjies geëindig, wat ’n oorwinning van sewe paaltjies was.
Die uitblinker met die kolf was Branwin “Bizza” Samuels wat ’n warrelwind- 33 lopies aangeteken het (3×6 en 1×4). Dit sluit 25 lopies in een boulbeurt in. Peter Verhoog het op 12 lopies nie uit nie geëindig.. Hierdie naweek speel Victorians hul laaste ligawedstryd in die 50-boulbeurte-kompetisie teen Robertson op Esselenpark.