Die seëvierende View Giants-span ná hul oorwinning teen Young Stars in die Pro10-eindstryd op Yorkshire Park by die Riverview- woonstelle. Foto: Luciano du Toit

View Giants het in ‘n vlakkiekrieketeindstryd vol drama daarin geslaag om ‘n hoogs gemotiveerde Young Stars van Roodewal te klop. Die wedstryd, wat voor ‘n groot skare op Yorkshirepark by Riverview-woonstelle gespeel is, het alles van ‘n eindstryd bevat, met nie een van die twee spanne wat wou besgee nie.

Young Stars het die loot gewen en besluit om Giants in te stuur om te kolf. Dit blyk die regte besluit te gewees het met die openingsbouler Keenan Daniels van Young Stars wat twee paaltjies in sy eerste boulbeurt geneem, maar terselfdertyd agt lopies afgestaan het.

Giants het hierna bestendig gekolf met sy aanvangskolwer wat die lopies bymekaargeskraap het.

Giants het 68 lopies in sy toegelate 10 boulbeurte aangeteken, wat Young Stars die taak gestel het om 69 lopies vir ‘n oorwinning los te moker.

Sy kolfbeurt het egter op omstrede wyse begin toe die aanvangskolwer Keanan Daniels tydens ‘n uithardloop, waar hy duidelik betyds in sy kolfkampie was, maar die bal deur die paaltjiewagter misgevang is, tot groot ongelukkigheid van die Young Star-spelers en -ondersteuners uitgegee is.

Die gebeure het daartoe gelei dat Young Stars sy kolwers van die veld af gelei en geweier het dat die skeidsregter verder diens doen. Die wedstryd is vir sowat ‘n halfuur gestaak en toe voortgesit.

Young Stars het geleidelik die lopies gejaag met Reginald Steyn aan die spits.

Sy kolfbeurt het Young Stars gehelp om binne trefafstand te bly met Heinrich Matthyssen en Ruben Lukas wat hom mooi bygestaan het. Steyn is egter uit met Young Stars 12 lopies kort van die laaste drie boulbeurte.

Hulle kon net vier lopies in die derde laaste boulbeurt aanteken en Ruben Lukas is ook uit. Giants het hierna die wind behoorlik uit Young Stars se seile geruk toe sy bouler vier paaltjies vir slegs twee lopies geneem het om Young Stars buite bereik van ‘n oorwinning te plaas.

Young Stars se stertkant-kolwers kon nie die nodige sewe lopies in die laaste boulbeurt haal nie en hulle is uiteindelik almal vir 62 lopies uit.

Dit het View Giants hul tweede titel van die Breedevallei-gemeenskapskrieket-vereniging besorg. – Luciano du Toit

You need to be Logged In to leave a comment.