Nadat Covid-19 veral amateurrugby die afgelope twee seisoene feitlik tot stilstand gedwing het, is die vooruitsig van rugby in ons streek weer ferm op die horison.
Ná deelname aan ’n hele paar 7’s-toernooie, waaraan Worcester Villagers ook met ’n groot mate van sukses deelgeneem het, asook sy deelname aan Superbro’s se 10’s-toernooi, verskuif sy fokus nou na die vyftienman-kode met die beplanning van ’n aantal wedstryde ter voorbereiding vir die Bolandstreek se ligaverpligtinge wat in alle waarskynlikheid vroeg in Maart ’n aanvang gaan neem.
Villa, soos Worcester Villagers alom bekend staan, is reeds van voorverlede week af aan die gang om sy spelers onder die wakende oog van sy afrigterskorps vir die komende seisoen gereed te kry.
Dit is veral verblydend om te sien dat spelers reeds in groot getalle by oefeninge opdaag.
Villa begin Saterdag 5 Februarie met ’n reeks vriendskaplike wedstryde met die eerste teen Safcol in Grabouw.
Vir Saterdag 12 Februarie reis Villa na Bonnievale om teen Blue Birds te speel. Sy derde wegwedstryd is Saterdag 19 Februarie wanneer hy in Ceres teen Bella Vista speel.
Ondersteuners kry Saterdag 26 Februarie die eerste keer geleentheid om hul span op eie bodem te ondersteun wanneer Villa op Bolandpark teen die 2019-Boland-kampioenspan, Saldanha, te staan gaan kom.. Alle Covid-19 protokol, met inbegrip van maskers, moet gehandhaaf word.