Vredenburg se rugbyveld het Saterdag (25 Oktober) soos ‘n mini-fees gelyk en verbygangers sou nie verkeerd gewees het om te dink dit is die geval nie. Die manne van Villagers Worcester, beter bekend as Villa, het daar opgedaag om te wen en om hul drome vir ‘n half-eindstryd in Wellington lewend te hou.

Villa het soos ‘n stormwind oor die vlaktes daar aangekom en vir die eerste twintig minute Vredenburg se “Vissermanne” in hul eie 22 vasgepen. Die skrums het soos ‘n Worcester-treffer gesing en Vredenburg het geworstel om kop bo water te hou.

Henrico Jacbos is aangewys as die Sanlam Confident Player of the Match. Foto: Stephan Neethling

Ten spyte van die oorheersing wou die punte net nie kom nie. Villa se ondersteuners het al begin fluister: “Dis mooi rugby, maar wanneer tel mooi?” Die spanning was tasbaar en net toe almal begin wonder of die busrit dalk te lank was, breek Tyler May in die 20ste minuut deur vir die eerste drie. Percy Basson het kort daarna nog een bygevoeg en ewe skielik was dit 12-0 vir Villa. Die paviljoen het gejuig – selfs die Weskus-wind het ‘n blaaskans geneem.

Rugby bly maar ‘n wispelturige speletjie. ‘n Paar glipse in konsentrasie, ‘n paar slim bewegings van Vredenburg en voordat jy kon sê “hou vas daai bal”, was die telling 12-10 teen rustyd. Die tuisspan-aanhangers het nuwe moed gekry, terwyl Villa se ondersteuners eerder nog ‘n koffie as ‘n koeldrank bestel het.

Met die wind nou in hul guns het Vredenburg die tweede helfte begin soos ‘n span wat planne het.

Sy agterlyn het van oral af gehardloop – van binne sy eie kwartgebied; van die kantlyn af.

Villagers se verdedigers het behoorlik vir hul brood gewerk.

Maar waar daar ervaring is, daar is kalmte. Villa se ou hande het die gemoedere gesus en die manne het begin wys hoekom hulle in die Top-12 hoort.

Percy Basson en Tyler May het elk weer hul naam op die telbord gaan druk, en toe kom Nazeer Bam – die menslike bulldozer – met ‘n drie wat die laaste vonk van Vredenburg se hoop blus.

Vredenburg verdien groot respek – hulle het nooit tou opgegooi nie en het Villa behoorlik laat sweet. Maar Worcester se manne het vasgebyt en met ‘n oorwinning van 29-23 huis toe gekom.

Gaan Villa elke week hul ondersteuners se bloeddruk toets?

Hopelik nie!

Volgende Saterdag om 17:00 wag Wesbank in Malmesbury, en dít gaan gewis nog ‘n groot kragmeting wees.

Die goeie nuus is dat alle spelers beskikbaar is – dit is dus tyd om die ratte reg te stel en die punteverskil regtig te laat tel.

Henrico Jacobs is as Sanlam se “Confident Player of the Match” aangewys; Percy Basson was die “Tekkie Player of the Day” en Edward Haas (kaptein) was die “Rainbow Powerhouse Player”.

Villa se drieë is gedruk deur Tyler May (2), Percy Basson (2), Nazeer Bam (1) en Gurshwin Africa het die bal vier keer deur die pale geskop. – Piet Hermanis

You need to be Logged In to leave a comment.