Hierdie komende Saterdag (1 April) skop die liga-verpligtinge onder die vaandel van die Boland Rugbyunie amptelik af met veral die grootuitdaag-kompetisie in die Breë /Langeberg-streek waar dinge sommer vroeg-vroeg vuurwerke kan veroorsaak.
In Esselenparkstadion gaan dinge behoorlik kook wanneer twee van die sterkste spanne in vanjaar se loting, Robertson Town en Young Hamiltons, mekaar die stryd gaan aansê, met Hammies wat met heelwat nuwe aanwinste spog.
Town daarenteen spog met amper die helfte van Villa se span wat in hul laaste wedstryd verlede seisoen teen die einste Town in die wenspan van Villa was.
Of dit egter ’n verskil gaan maak aan ’n begeesterde Hammies met sy honderde lojale ondersteuners om die tuisspan aan te spoor, bly egter ’n ope vraag wat eers ná die eindfluitjie Saterdagmiddag beantwoord behoort te word.
In die ander wedstryde in dieselfde afdeling kom verlede seisoen se streekliga-wenners, Robertson Rangers, in die Van Zylstraatstadion teen die nuutgepromoveerde Bonnievale Bluebirds te staan, terwyl Montagu vir Worcester Perseverance in die King Edwardstadion in Montagu die stryd gaan aansê.
Swellendam ontvang besoek van die Proteas van De Doorns terwyl Ashton United besoek ontvang van Montagu Villagers.
Worcester Villagers geniet Saterdag ’n loslootjie en begin eers sy aanslag op liga-louere op 15 April wanneer hy tuis in Bolandpark te staan gaan kom teen Ashton United.
Intussen gaan voorbereidings voort en kan daar met groot verwagting uitgesien word na 2023 en dit wat die onderskeie klubs vir hul lojale toeskouers na die tafel gaan bring.




