‘n Vrou wat onder eed gejok het deur te sê haar kêrel het haar verkrag, is twee jaar tronkstraf opgelê vir dwarsboming van die gereg, wat vir twee jaar opgeskort is.

Wat dit beteken, is dat indien die beskuldigde binne die volgende twee jaar weer aan dwarsboming van die gereg skuldig bevind word, die twee jaar tronkstraf in werking gestel sal word.

In haar pleitooreenkoms erken die vrou (27) van Roodewal in Worcester dat sy op 1 Mei 2023 na die Worcester-polisiekantoor toe gegaan het met die bedoeling om ‘n klagte teen haar kêrel aan te meld.

Sy het erken sy en haar kêrel het verhoudingsprobleme gehad.

Volgens haar het sy vir hom kwaad geword nadat ‘n stryery tussen hulle uitgebreek het.

Sy erken sy het ‘n vals verklaring onder eed afgelê, wat tot sy inhegtenisneming en aanhouding op ‘n klag van verkragting gelei het.

Ná haar kêrel se inhegtenisname, sê die beskuldigde, het haar gewete haar begin pla.

Volgens haar het sy berou gehad omdat haar kêrel hom weens die vals klagte wat sy teen hom aangemeld het, in polisie-aanhouding bevind het.

Die beskuldigde erken dat sy die speurder wat die saak hanteer, gekontak en hom ingelig het dat die bewerings wat sy onder eed gemaak het, vals is.

Volgens haar het die speurder haar gevra om ‘n verklaring onder eed af te lê waarin sy uiteensit dat die klagte wat sy aangemeld het, ‘n vals verkla­ring was.

Die beskuldigde het aan hierdie versoek voldoen, wat tot haar eie inhegtenisneming en aanhouding gelei het. Sy erken haar optrede was onwettig en sy het bedoel om die gereg te dwarsboom.

Met betrekking tot verswarende faktore, word in die pleitooreenkoms genoem dat dwarsboming van die gereg ‘n baie ernstige misdaad is wat die gemeenskap se vertroue in die strafregstelsel ‘n knou gee.

Die beskuldigde het ook geen ag geslaan op die vooroordeel wat die slagoffer as gevolg van haar kwaadwillige daad sou ly weens dié ernstige saak waarvoor hy deur die polisie aangekla en opgesluit is nie.

Die beskuldigde se optrede het ook ‘n negatiewe impak op die romantiese verhouding waarin die twee partye in daardie stadium betrokke was, gehad.

Die versagtende omstandighede wat voorgehou is, was dat die beskuldigde skuldig gepleit en berou getoon het. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.