Vuurwerke op Guy Fawkes: oortreders kan stywe boete te wagte wees

Dierewelsynorganisasies meen die beste oplossing bly maar om troeteldiere in die huis te laat kom wanneer vuurwerke afgevuur word. Foto: Brady Rogers/ Unsplash

Die afvuur van vuurwerke is ‘n strafregtelike oortre­ding en diegene wat hierdie brandveiligheidsordonnansie oortree kan met R500 of meer beboet word.

So sê Hannelie Botha, ‘n woord­voerder van Breedevallei-munisipaliteit (BVM).

Sy het die uitlating gemaak in die lig van Guy Fawkes-dag wat Woensdag (5 November) gevier word en gewoonlik met die afvuur van vuurwerke gepaardgaan.

Volgens Botha word die afvuur van vuurwerke binne die Breedevallei munisipale gebied verbied.

Sy sê vuurwerke wat afgevuur word, kan menselewens, wonings en sake-ondernemings vernietig.

Volgens haar kan mense ernstige brandwonde opdoen en kan hul gehoor ook skade ly.

Voorts, sê sy, hou vuurwerke gevare in vir troeteldiere.

Amoré van Jaarsveldt van Sandy’s Animal Rescue in Worcester sê die geluid wat vuurwerke afgee is tien keer harder vir diere as vir mense.

“Vir hulle [die troeteldiere] klink dit soos ‘n bom wat langs hulle ontplof.”

Volgens Van Jaarsveldt het hulle al te doen gehad met ‘n hond wat van buite deur sy eienaar se toe venster gespring het toe vuurwerke afgevuur is.

Sy sê die hond was erg bebloed omdat die glasstukke hom lelik gesny het.

Volgens haar het die hond vir ‘n ruk gely omdat sy eienaars ten tyde van die voorval nie tuis was nie. Kort hierna is hy dood. Van Jaarsveldt sê troeteldier-eie­naars wat gewoonlik hul die­re vasmaak moet dit nie doen wanneer vuurwerke afgevuur word nie omdat die honde hulself aan hul kettings kan doodwurg soos hulle desperaat probeer om van die geraas af weg te kom.

Volgens haar is die beste oplossing maar om troeteldiere binne in die huis te laat kom wanneer vuurwerke afgevuur word.

vuurwerke
Ter illustrasie: Die afvuur van vuurwerke in ‘n residensiele gebied is ‘n kriminele oortreding. Foto: Vida Huang/Unsplash

Sy stel voor dat troeteldier-eienaars die huis se vensters en gordyne dan moet toemaak en musiek aanskakel wat die klank van die vuurwerke verdoof.

Van Jaarsveldt stel voorts voor dat troeteldier-eienaars by hul diere moet bly en hulle rustig hou deur met hulle te praat of ‘n drukkie te gee.

Volgens haar moet ‘n veilige plek vir troeteldiere in die huis geskep word.

Hulle kan besig gehou word deur vir hulle kou-speelgoed te gee of peuselhappies te voer.

Sy sê eienaars moet ook hul troeteldiere se mikroskyfie nagaan indien die honde paniekerig sou raak en weghardloop.

LEES OOK: Sorg só in hitte vir jou troeteldier

Nog ‘n manier om troeteldiere rustig te hou wanneer vuurwerke afgevuur word, is om vir hulle ‘n veiligheidsharnas van byvoorbeeld ‘n handdoek of la­ken te maak en dit agter hul rug vas te knoop.

Die harnas sal die hond veilig laat voel teen die klank van die klappers.

Volgens haar moet honde wat die veiligheidsharnas dra ook ten tyde van die afvuur van vuurwerke in die huis gehou word.

Vuurwerkverwante oortredings kan aangemeld word deur 086 012 1212 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.