Altesaam vyf vermeende kabeldiewe is Dinsdag (14 Oktober) deur die Rawsonville-polisie in samewerking met provinsiale verkeersdienste en die G24-veiligheidsmaatskappy aangekeer nadat hulle glo Eskom-kabels by ‘n plaas in die Slanghoek-omgewing gesteel het.
Luidens ‘n verklaring deur G24 het sy beheerkamer Dinsdagoggend om sewe-uur ‘n oproep ontvang oor diewe wat op daardie tydstip met hul goue BMW nog op die toneel was.
“Ons taktiese eenheid is dadelik na die toneel gestuur en is op pad daarheen ingelig dat die verdagtes van die toneel af padgegee het.
“Een van G24 se taktiese voertuie het in afwagting van die verdagtes se vlugrigting vinnig beweeg om die hoofuitgangsroete af te sluit.
“Die BMW het toe teen die G24- taktiese voertuig gebots, waarna vyf verdagtes uit die voertuig gespring en te voet gevlug het terwyl hulle op ons beamptes geskiet het,” lui die verklaring.
Volgens G24 het sy veiligheidswagte, wat die verdagtes te voet agterna gesit het, vier van hulle aangekeer en aan die Rawsonville-polisie oorhandig.
Die vyfde verdagte is kort daarna op die N1 in samewerking met die polisie en provinsiale verkeersdienste aangekeer.
‘n Boer het glo die G24-beheerkamer gekontak en aangemeld dat iemand wat met die beskrywing van die vyfde verdagte ooreenstem, in ‘n Toyota, wat in die rigting van die Hugenote-tonnel op die N1 beweeg het, geklim het.
“Ons eenhede het onmiddellik na die gebied gegaan en provinsiale verkeersbeamptes, wat reeds langs die N1 geposisioneer was, in kennis gestel.
“By aankoms is die voertuig reeds deur beamptes van provinsiale verkeer voorgekeer en G24-lede het die verdagte positief uitgeken.
“Hy is in hegtenis geneem en vir verdere optrede aan die polisie oorhandig.”
‘n Helikopter en hommeltuie is gebruik om na die vyfde verdagte te soek.


