Vyfde geslag van die Jordaans meld aan by Hoërskool Goudini

: Die Jordaans spog met vyf geslagte wat by Hoërskool Goudini skoolgegaan het. Hier is vier van die vyf geslagte (agter van links): Daniël Petrus Hugo en Johannes Petrus en voor Johannes Petrus Hugo en Daniël Petrus. Foto: Angelo julies


Die Jordaans op Rawsonville is so sinoniem met dié dorp soos die wynplase in die omgewing. Behalwe dat die Jordaans bekend is vir hul boerdery, spog die familie nou met vyf geslagte van Jordaans wat by Hoërskool Goudini op Rawsonville skoolgegaan het.

Hugo Jordaan (7) is die jongste van die Jordaans en het vanjaar sy skoolloopbaan begin waar sy pa, oupa, oupagrootjie en oor-oupagrootjie skoolgegaan het.

Daantjie Straat (Daniël Petrus) was die voorloper vir die Jordaans by Hoërskool Goudini en het in standerd 8 (gr. 10) die skool verlaat om te gaan werk. Hy is gevolg deur sy seun, Jan Straat (Johannes Petrus Hugo, 85) wat van 1937 tot 1948 by die skool sy boekekennis opgedoen het.

Niel Straat (Daniël Petrus Hugo, 62) het van 1959 tot 1971 Goudini Hoër toe gegaan en Johan (Johannes Petrus, 35) van 1987 tot 1998.

Tot dusver was hulle ook almal hoofseuns in hul onderskeie matriekjare.

Volgens Niel deel die familie ’n noue band met die skool en maak hulle ook deel uit van die skool se geskiedenis. “My oor-oupagrootjie het destyds die grond gegee waarop dié skool in 1857 gebou is, omdat hy geglo het dat dit noodsaaklik was vir die dorp om ’n skool te hê.”

You need to be Logged In to leave a comment.