Die damvlakke van die Langeberg-streek bly kommerwekkend laag, met vlakke wat in die middel van die somer tot onder 25% gedaal het.

Gevolglik het die Langeberg-munisipaliteit vroeër aangekondig dat Vlak 1-waterbeperkings van 1 Februarie in Robertson ingestel is.

“Die huidige watersituasie is die gevolg van lae reënval, verhoogde waterverbruik gedurende die somermaande, en buitengewoon hoë daaglikse temperature wat bygedra het tot die verhoogde druk op ons waterhulpbronne. Ons het geen keuse gehad as om maatreëls ingevolge die munisipaliteit se droogtebestuurbeleid in te stel nie,” sê Danie Lubbe, munisipale bestuurder.

Die mees doeltreffende manier om watertekorte te bestuur, is om oormatige waterverbruik deur verhoogde tariewe te ontmoedig. Spesiale watertariewe wat met hierdie beperkings gepaardgaan, sal van die volgende meterlesing- en rekeningsiklus toegepas word.

Robertson-inwoners word aangemoedig om hul waterverbruik met minstens 10% te verminder om die munisipaliteit se teikenverbruikvlakke te help bereik.

Inwoners wat skuldig bevind word aan die oortreding van waterbeperkings of die nie-nakoming van die waterverordeninge kan ’n boete van R3 709.17, tot drie jaar tronkstraf, of albei in die gesig staar. Alle oortredings moet by die munisipaliteit se inbelsentrum aangemeld word vir opvolging deur wetstoepassers. Instandhoudingspanne sal ook beskikbaar wees om hulpbehoewende huishoudings met die herstel van lekke by te staan.

Hoewel die beperkings tans slegs op Robertson van toepassing is, moedig die munisipaliteit inwoners in die ander dorpe van Langeberg ook aan om water te bespaar om soortgelyke beperkings in die toekoms te vermy.

Die Langeberg-munisipaliteit doen ’n beroep op alle Robertson-inwoners, asook dié in die ander dorpe van Langeberg, om saam te werk gedurende hierdie kritieke tyd om die gemeenskap se watervoorraad te beskerm.

  • Skakel die munisipaliteit se 24/7-inbelsentrum by 0860 88 1111 of 023 615 2219, stuur ’n WhatsApp-boodskap na 065 211 7822, gebruik die Collab Citizen-toepassing, of e-pos info@langeberg.gov.za om watermisbruik of enige lekke aan te meld.

Besoek die munisipale webwerf www.langeberg.gov.za vir meer inligting, insluitend die volledige droogtebestuurbeleid.

Doen ook op die webwerf aansoek vir spesiale vrystelling van die waterbeperkings.

You need to be Logged In to leave a comment.