Louis Steijn in sy kantoor as nuwe hoof van Hoër Tegniese Skool Drostdy.Foto: Phiwokuhle Mothemela


HTS Drostdy het die nuwe skooljaar wat onlangs begin het ook met ’n nuwe skoolhoof begin.

Hoewel hy nie nuut by die skool is nie, sien Louis Steijn steeds uit na die nuwe uitdaging.

Hy is aangestel nadat die vorige hoof, Arthur Underhay, aan Covid-19 oorlede is.

Die nuwe hoof, wat die afgelope agt jaar al by die skool is, het sy onderwysloopbaan in 1993 in Witbank begin.

Daar het hy Engels huistaal, geskiedenis, lewensoriëntering en Afrikaans onderrig, en is later as adjunkhoof aangestel.

“Toe ek agt jaar gelede hier aangekom het, was dit ’n skok vir die skoolgemeenskap, want ek en die hoof wat oorlede is, was albei nuut,” vertel Steijn.

Dié onderwyser en sy gesin, wat ook deel was van die skool, het hul nuwe tuisdorp saam aangepak en vinnig deel van die Worcester-gemeenskap geword.

Volgens Steijn was hy verlede jaar die waarnemende hoof ná Underhay se dood in Desember 2020.

“Dit is maar moeilik om jou persoonlike stempel op iets af te druk as jy die waarnemende hoof is, want jy weet nie of jy aangestel gaan word of nie.”

Steijn voeg by dat Underhay die skool in ’n goeie posisie agtergelaat het.

“Ons het net verder op die bestaande sukses gebou.”

As skoolhoof verwag Steijn volle deelname van leerders aan alle aktiwiteite wat aangebied word.

“Ek het gesien wat die pandemie aan ons leerders se geestesgesondheid gedoen het, dus wil ek graag hê almal moet weer aan die verskillende aktiwiteite deelneem.”

Hy sê ook Drostdy is ’n waardege­drewe en boelievrye skool. “Saam met dit, as skool, werk ons aan een waarde hierdie jaar, en dit is respek. Om in ons doelwit as waardegedrewe en boelievrye skool te slaag, moet ons mekaar as leerders en personeel kan respekteer.”

You need to be Logged In to leave a comment.