Ná drie uiters teleurstellende pogings om sy promosieligaveldtog van die grond af te kry, het Wolseley Saterdag met ’n oorheersende vertoning wonderbaarlik uit die as herrys, sy eerste regstreekse oorwinning behaal en daarmee nuwe lewe in sy veldtog geblaas.
Wolseley se oorwinning met vyf paaltjies oor die veel geroemde Overstrand van Hermanus was welverdiend vir ’n span wat bo sy omstandighede uitgestyg het.
Overstrand, wat gevra is om eerste te kolf, was van meet af onder druk van Wolseley se boulers en het die manne van die walvis-wêreld vroeg op 39 vir 7 in slegs 17.3 boulbeurte gestrand gehad.
Overstrand kon nooit werklik van die terugslae herstel nie en is al sukkelende vir ’n skamele 59 lopies uitgeknikker in ’n beurt wat slegs 24.4 boulbeurte en 95 minute geduur het.
Wolseley het in ideale toestande op ’n uitstekende blad, wat beide kolwer en bouler bevoordeel het, met onberispelike boulwerk Overstrand se sewe beste kolwers binne ’n oogwink van die kolfblad af gevee.
Die invloedryke Jacques Esau, die speler van die wedstryd, was voortreflik met die bal. Sy syfers van 8-2-12-4 spreek vanself. Harriet Pietersen (6-1-16-2), Rashied September (4.4-1-13-2) en Duran McClune (1-0-1-1) was net so ’n handvol. Saam het hulle Overstrand se dag met ’n vroeër middagete bederf. Slegs Chad Kleinsmith met 26 (1×4) kon werklik enige teenstand bied; die res was maar ’n droewige saak.
Wolseley, met ’n oorwinning in sig, het geen gras onder sy voete laat groei nie en binne slegs 55 minute en slegs 10.5 boulbeurte 62 vir 5 vinnig die lopies afgeslaan en ’n bonuspuntoorwinning verseker met nog vyf paaltjies staande.
Rashied September 16 (2×4) en Duran McClune 18* (4×4) het Wolseley se skip gekalmeer toe hulle drie paaltjies met die telling op 43 kort ná mekaar verloor het. Dit was egter McClune wat met vier klassieke houe vreugde in die Wolseley-kamp gebring het. Kenneth Ballem (3 vir 19) en Johan Krogg (2 vir 14) het nietemin probeer red wat nog te redde was, maar helaas was dit Wolseley se karakter wat hy deurgaans gewys het wat die netjiese oorwinning verseker het.
Hierdie komende naweek speel Malmesbury gasheer vir Wolseley terwyl Overstrand tuis teen Bergrivier kragte sal meet.


